Minimum loon vir plaaswerkers reggestel

geld 2Die minimum loon vir plaaswerkers verhoog op 1 Maart 2014 met 6.4% en nie met 7% soos aanvanklik gekommunikeer is nie.

Die departement van arbeid het verlede week inligting bekend gestel oor die verhoging van die minimum loon, maar ‘n fout het met die aankondiging ingesluip, deurdat die departement die verkeerde kwintiel  van die November 2013-Verbruikersprysindeks (VPI) gebruik het om verhoging op die loon vir plaaswerkers te bereken. “Nadat Agri SA hierdie probleem met die departement opgevolg het, is die fout reggestel,” het Hendrik Ackermann, voorsitter van Agri SA se arbeid- en sosiaal-maatskaplike beleidskomitee, gesê.

Bosbou Suid-Afrika het dié fout onder Agri SA se aandag gebring. Die rede vir die bosboubedryf se betrokkenheid is veral omdat die sektorale vasstelling wat op bosbouwerkers van toepassing is, van 1 April 2014 dieselfde sal wees as dié vir plaaswerkers. “Alhoewel dit ‘n klein persentasie verskil en ‘n minimale bedrag verteenwoordig, gaan dit oor die formule wat gebruik is vir die berekening vir vanjaar se verhoging en die toepassing daarvan vir die 2015 verhoging in lone,” het Ackermann bygevoeg.

Die maandelikse minimum loon vir plaaswerkers verhoog dus van R2 274.82 na R2 420.41, die weeklikse loon van R525.00 na R558.60 en die daaglikse loon van R105.00 na R111.72 vir ‘n 9 uur werksdag. Die uurlikse loon sal verhoog van R11.66 na R12.41. “Werkgewers word versoek om die veranderings in lone aan hul werkers te kommunikeer en verhogings op 1 Maart 2014 te implementeer,” sê Ackermann.

In die geval waar werkgewers nie die verhoging kan bekostig nie, kan werkgewers aansoek doen vir variasie.  Werkgewers word versoek om met hul werkers te konsulteer voordat sodanige aansoeke ingedien word.  Aansoekvorms is op Agri SA se webwerf,  beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.