Minirok vier 50ste verjaardag

Woensdag, presies 50 jaar gelede, het die Britse mode-ontwerper, Mary Quant, haar eerste minirok verkoop. Eers drie jaar later het die rokkies wat ruim bo die knie geëindig het, as die minirok bekend begin staan, toe Quant dit na haar geliefde motortjie, ‘n Mini, vernoem het.

Later, toe die Franse ontwerper, André Courèges sy stempel daarop afgedruk het, het dit behoorlik as simbool van vroulike bevryding posgevat. Terselfdertyd het daar egter ook weerstand gekom, en is in 2000 in Swaziland as drag vir skoolmeisies verbied. Verskeie Afrikalande, aldus De Standaard, glo die minirok dra tot die verspreiding van Vigs by.

Vier jaar gelede is ‘n optog in Johannesburg gehou uit protes teen die aanranding van die draers van dié einarokkies. Dat so ‘n klein dingetjie nou so ‘n kontroversie sou loslaat het Quant nooit kon dink nie.

Quant, wat ook vir die sjoebroekies gesorg het, se roem het egter nie net tot die minirok beperk gebly nie. In 1988 het sy die interieur van die Mini 1000 ontwerp, wat aanvanklik as die Mini Quant bekend gestaan het. Peilings het egter daarop gedui dat dié assosiasie nie gewild was nie, en is die motortjie se naam na die Mini (1000) Designer verander.

In 1966 is die Order of the British Empire aan haar toegeken, een van ‘n hele aantal groot toekennings wat sy ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.