Minister fouteer glo met eie statistieke

Minister Mildred Oliphant

Minister Mildred Oliphant

Die minister van arbeid, Mildred Oliphant, het in haar toespraak tydens die amptelike bekendstelling van die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming in die parlement ʼn growwe fout begaan toe sy gesê het dat ʼn nuwe tendens na vore gekom het waar werkgewers toenemend buitelanders eerder as Suid-Afrikaners in bestuursposisies aanstel. Oliphant het genoem dat die Kommissie vir Gelyke Indiensneming se verslae toon dat daar in 2002 0,0% buitelanders in topbestuursposisies was, maar dat dit in die tien jaar tot 2012 tot 3,1% gegroei het.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die Kommissie vir Gelyke Indiensneming het in werklikheid geen inligting oor buitelandse werkers gedurende 2002 ingesamel nie – dié kategorie is eers by die 2006-verslag ingesluit. “Dat die minister, wat veronderstel is om omsigtig te wees en deurdagte besluite te neem, so ʼn fout begaan, is onverskoonbaar.“

Joubert sê Elleck Nchabeleng, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir arbeid, het in sy toespraak die minister se fout herhaal deur te sê: “The new and unusual phenomenon is the number of non-South Africans in top management positions in 2012, which stood at 3,1% compared to 0% in 2002. It seems to me that you need to be a non-South African in this country if you want the Employment Equity Act to work for you.

Joubert sê hoewel Nchabeleng dieselfde basiese fout as die minister begaan het, hy wel nader aan die waarheid kom as hy sê dat die toepassing van die Wet op Gelyke Indiensneming voordelig vir buitelanders is. “Die wet maak Suid-Afrikaners aan dieselfde vernederende rassedenke as in die verlede onderhewig, maar stel immigrante daarvan vry. Aangesien immigrante nie in berekening gebring word wanneer voldoening aan regstellendeaksieteikens beoordeel word nie, moedig die wet dus juis indiensneming van vaardige werkers van buite Suid-Afrika aan. Die jongste wysigings aan hierdie wet gaan hierdie optrede nog sterker aanmoedig.”

Wanneer die Kommissie vir Gelyke Indiensneming se verslae van 2006 tot 2012 ondersoek word, kan gesien word dat die persentasie buitelanders op topbestuursvlakke in daardie ses jaar slegs met 0,1 van ʼn persentasiepunt rondom 3% gefluktueer het. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het egter ook reeds sedert 2007 die kommissie se verslae krities ontleed en elke keer verskeie foute daarin gevind. Die jongste verslag is geen uitsondering nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marinus ·

Dis wat gebeur as jy jou kwalifikasie in Afrika kry . . . . . al hoe ons van die parasiete ontslae gaan raak is deur volgende jaar op te ruk na die stem busse.

Nico Kruger ·

Dit gebeur regtig dat werkgewers mense van Zimbabwe of Kenia aanstel en dit dan tel as regstellende aksie aanstellings. Regstellende aksie kon nooit bedoel gewees het om vreemdeling swartes te bevoordeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.