Die minister van korrektiewe dienste, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het ʼn mediakonferensie belê vir Vrydag om lig te werp op die gesondheid van die voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi.
Die minister se woordvoerder, Zacharia Modise, wou nie Donderdag kommentaar lewer op berigte dat “Selebi veg om sy lewe nie.” Hy sê Mapisa-Nqakula sal Vrydag alle besonderhede rondom Selebi (61) se gesondheid bekendmaak. Selebi is Maandagoggend na die Steve Biko-hospitaal vervoer om behandeling te ontvang vir hipertensie en nierprobleme. Hy ontvang glo dialise en is na bewering geskeduleer om ʼn orgaanoorplanting te kry as gevolg van komplikasies met diabetes.
Selebi is op 12 November ook na die Steve Biko-hospitaal geneem vir mediese toetse. Selebi is op 5 Desember in die Pretoria Sentraal gevangenis se hospitaalafdeling opgeneem nadat hy sy 15 jaar vonnis vir korrupsie moes begin uitdien. Selebi is eers in die Jakaranda hospitaal behandel nadat hy op 2 Desember by sy huis in Waterkloof inmekaargesak het toe die hoogste hof van appèl sy aansoek om sy vonnis ter syde te stel, van die hand gewys het. Daar is vroeër berig dat Selebi na die Johannesburgse gevangenis, ook bekend as “Sun City”, oorgeplaas sal word sodra sy toestand verbeter.