Minister glo betrokke in baba-drama

Xingwana. Foto: GCIS

ʼn Ma van Mthatha in die Oos-Kaap beweer sy het haar 2-jarige dogtertjie nog nie weer gesien sedert sy deur Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede en haar broerskind weggeneem is nie.

TimesLive berig dat Xingwana se broerskind, die pa van die dogtertjie, die kind by sy voormalige meisie gevat het om vir haar ʼn “beter lewe” te gee. Hy weier glo om die kind aan haar ma terug te gee ondanks drie hofbevele om dit te doen. Die dogtertjie bly glo tans in Xingwana se spoghuis in Pretoria. Regsverteenwoordigers vir die ma dreig intussen om by die hof aansoek te doen sodat die pa aan minagting van die hof skuldig bevind kan word. Xingwana het glo by die toesigstryd betrokke geraak toe sy saam met haar lyfwagte en haar broerskind na Mthatha gereis het en die dogtertjie onder dwang verwyder het. Cornelius Monama, die minister se woordvoerder, sê egter die saak het niks met haar te doen nie. Xingwana se broerskind het volgens TimesLive in Julie verlede jaar ʼn dringende aansoek voor die Mthatha-hooggeregshof gebring om toesig van sy dogtertjie te verkry. Die hof het op 1 Februarie vanjaar beveel dat die dogtertjie in die pa se sorg geplaas moet word. Die ma het egter teruggeveg en die hof het beveel dat die dogtertjie teen 7 Maart aan haar ma terugbesorg moet word hangende die uitkoms van die litigasie. Die ma sê egter die dogtertjie is op 1 Februarie, ure nadat die interim bevel gemaak is, uit haar sorg verwyder en dat sy haar nog nie teruggekry het nie.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.