Minister Gordhan se transformasiebegroting klop nie – AfriSake

Minister Pravin Gordhan lewer 2014 se begroting. Foto: GCIS

Minister Pravin Gordhan lewer 2014 se begroting. Foto: GCIS

Groot planne, meer toelaes en verhoogde besteding. Wie gaan hiervoor betaal? Dit was die vraag van AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, in reaksie op minister Pravin Gordhan se begrotingstoespraak.

Volgens AfriSake vorm die staatsbegroting ’n finansiële bloudruk vir groter staatsinmenging in die ekonomie en lewens van gewone Suid-Afrikaners. “Honderde miljarde rand word spandeer aan maatskaplike opheffing, terwyl belegging in ekonomiese groei feitlik geen aandag kry nie,” het Jansen van Rensburg gesê. Voorbeelde sluit in:

Die groei in die getal staatsafhanklikes van 13 miljoen mense na 16 miljoen mense dui op groeiende afhanklikheid van die staat. Tesame met die verhoging in die maandelikse toelaes beloop die koste nou ongeveer R168 miljard per jaar (’n R40 miljard-verhoging). Dit verteenwoordig meer as 17% van staatsbesteding.

In vergelyking met staatstoelaes beoog die regering om slegs R45 miljard te bestee aan inisiatiewe wat ten doel het om die ekonomie te laat groei en kleinsakeondernemings te ondersteun. Dit is minder as 5% van die totale begroting.

Die oordrewe fokus op maatskaplike besteding is nie volhoubaar nie. Dit hou in dat minder mense ekonomies produktief is en dat belastings en admistratiewe pryse steeds sal styg.

Gordhan se verwysing na verslapte regulasies om oorsese kapitaal na Suid-Afrika te lok, strook nie met die regering se stappe om die bilaterale handelsooreenkomste met die buiteland te kanselleer nie, en ook nie met wetgewing wat beoog om groter staatsbeheer oor beleggings te kry nie.

Alhoewel die beplande besteding aan nuwe infrastruktuur en addisionele elektrisiteitsopwekkingsvermoë uiters belangrik is, bly die vraag wie oor die lang termyn die koste van al hierdie inisiatiewe gaan moet dra.

Met ’n middelklas wat onder groeiende belastingdruk gebuk gaan, en ’n regulatoriese omgewing wat eiendomsreg ondermyn, is dit moeilik om te sien hoe ekonomiese groei staatsbesteding sal kan finansier.

Die erkenning van president Zuma en minister Gordhan dat die sakesektor die primêre skepper van werksgeleenthede is, blyk net lippetaal te wees. Die mate waartoe die regering hom posisioneer as werkskepper is besig om die kleinsakegemeenskap stelselmatig uit die ekonomie te druk.

Tot hierdie ingesteldheid verander, sal Suid-Afrika se ekonomiese, maatskaplike en politieke uitdagings nie opgelos word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.