Minister moet sê oor grootskaalse afleggings by Obsa

Die vakbond Solidariteit het Pravin Gordhan, minister van finansies, versoek om te bevestig of die grootskaalse afleggings by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) met sy uitdruklike goedkeuring voortgaan.

Patrick Dlamini, hoof van Obsa, is vroeër aangehaal waar hy gesê het dat hoewel werksverliese moontlik is, dit nie naastenby soveel sal wees as wat berig is nie. In weerwil hiervan het Obsa volgens amptelike dokumente 811 werknemers op 30 September 2012 gehad en wil hy sy personeel teen 7 Mei tot 443 werknemers verminder.

Schalk de Bruin, woordvoerder van Solidariteit, sê minister Gordhan moet bevestig dat die grootskaalse afleggings met sy goedkeuring voortgaan aangesien die begroting van die nasionale tesourie, aandeelhouer van Obsa, aandui dat die getal werknemers by die bank oor die volgende drie jaar konstant sal bly. “Volgens die tesourie se begroting het die bank 839 werknemers op 30 September 2012 gehad en is R7,9 miljard oor die volgende drie jaar aan dié staatsinstelling toegeken. Solidariteit is egter tans betrokke by ʼn artikel 189A-afleggingsproses by Obsa. Volgens amptelike dokumente wat Obsa aan die vakbond beskikbaar gestel het, het dié bank 811 werknemers op 30 September 2012 gehad. Dié getal moet teen einde Maart tot 612 werknemers verminder word en teen 7 Mei moet daar slegs 443 werknemers by die bank wees. Die inligting strook egter nie met Dlamini se uitlatings dat werksverliese slegs ʼn ‘moontlikheid’ is nie. Dit blyk dat Dlamini meen daar gaan nie grootskaalse afleggings wees nie, terwyl amptelike dokumente van Obsa die teenoorgestelde prentjie skets.”

De Bruin sê Solidariteit het intussen verneem dat Gordhan Obsa besoek het na aanleiding van ʼn skrywe wat die vakbond in Maart aan die minister gestuur het. “Solidariteit het in die skrywe geëis dat die nasionale tesourie moet toesien dat afleggings by Obsa gestaak word en dat hy sy huis in orde moet kry aangesien Obsa en sy aandeelhouer nie uit dieselfde mond praat nie. Verskeie hooggeplaaste werknemers by Obsa het hulself tydens afleggingskonsultasies van die inligting wat in die nasionale begroting oor Obsa vervat is, gedistansieer. Volgens Solidariteit se inligting het Gordhan onder meer tydens sy besoek dié hooggeplaastes op die vingers getik. Dit blyk dat Obsa uit eie inisiatief optree en daar is dus ʼn dringende behoefte aan leierskap van die tesourie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.