Minister moet werknemers in ag neem met 1time-besluit

Die vakbond Solidariteit het Woensdag ʼn beroep op die minister van vervoer gedoen om aan 1time se nagenoeg 540 voormalige werknemers te dink wanneer daar besluit word of FastJet die lugredery mag koop. 1time het ʼn aansoek by die lugdienslisensiëringsraad (ASLC) ingedien om dié maatskappy van subartikel 16(4)(c)(ii) van die Wet op Lisensiëring van Lugdienste van 1990 vry te stel sodat FastJet die meerderheidsaandeelhouer van 1time kan word.

Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê FastJet het verlede jaar ’n opsie-ooreenkoms onderteken om 1time Airline te koop nadat dit onder voorlopige likwidasie geplaas is. 1time het ʼn aansoek by die ASLC, ʼn afdeling van die departement van vervoer, ingedien om FastJet by sy aandeelhouding in te sluit. “Ingevolge wetgewing, wat deur die vorige regering ingestel is, moet die aandeelhouding van ʼn plaaslike lugdiens so gestruktureer word dat Suid-Afrikaanse inwoners 75% van die stemreg behou. Dit blyk egter dat FastJet ʼn meerderheidsaandeel in die maatskappy wil hê en dit kan uiteindelik tot gevolg hê dat die transaksie misluk en daar geen verdere hoop is vir die nagenoeg 540 mense wat hul werk verloor het toe 1time sy deure gesluit het nie. 1time het ʼn aansoek gebring dat hy nie aan dié spesifieke bepaling van die wetgewing onderhewig hoef te wees nie. Die minister van vervoer kan volgens die wet die ASLC opdrag gee om ʼn uitsondering te maak en ʼn lisensie toe te ken selfs al is die lugdiens se aandeelhouers nie Suid-Afrikaanse inwoners nie.”

Croucamp sê Solidariteit is bekommerd dat die minister teen so ʼn toegewing sal besluit, wat die transaksie in die wiele sal ry, aangesien die regering se gedrag in die lugvaartbedryf tot dusver deur sterk teenkanting teen mededinging gekenmerk word. “Streng wetgewing en die staat se monopolistiese gedrag in die lugvaartbedryf, wat die staat se voortdurende finansiële steun aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) insluit, dwing vryemarkmededingers uit die mark. Die ondergang van SAL-mededingers dien ook as ’n belangrike afskrikmiddel vir potensiële beleggers wat dalk nog tot die lugvaartbedryf sou wou toetree.”

Volgens Croucamp sal dit, indien die minister nie die toegewing maak nie, duidelik wees dat die regering die SAL teen enige koste sal beskerm en dat daar nie plek vir ander lugrederye in die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.