Minister sal geld terugbetaal

Tina Joemat-Peterson

Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het Woensdag belowe sy sal meer as R150 000 van die staatsgeld wat sy wanbestee het, terugbetaal.

Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het Joemat-Pettersson Maandag skuldig bevind dat sy op ten minste twee geleenthede belastingbetalers se geld gemors het. In een geval het sy in ‘n gastehuis tuisgegaan waarvan die koste meer as R400 000 beloop het. Sy het ook R150 000 spandeer aan vlugte vir haar kinders en hul au pair. Madonsela het aanbeveel dat die minister R150 000 aan die departement van landbou terugbetaal en ‘n beroep op president Jacob Zuma gedoen om haar aan te spreek.

Palesa Mokomele, woordvoerder vir Joemat-Pettersson, het belowe dat die minister die geld sal terugbetaal, berig EWN. “Die minister sal die fondse terugbetaal en aanvaar volle verantwoordelikheid, maar wil ook byvoeg dat sy nie voldoende ingelig is nie,” het Mokomele gesê. Joemat-Petterson het aangevoer dat sy nie ordentlik ingelig is voordat sy haar kinders en hul au pair in 2009 van Swede af terug na Suid-Afrika laat vlieg het nie.

Madonsela het bygevoeg dat die minister se hoof in daardie stadium, Bafedile Bopape, ook gedissiplineer moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.