Minister se uitlatings oor boere nie haatspraak

Die minister van huisvesting, Tokyo Sexwale. Foto: GCIS

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het bevind dat die minister van huisvesting, Tokyo Sexwale, se uitlatings oor boere nie haatspraak was nie maar wel onsensitief was.

Agri-SA het ʼn klag teen Sexwale aanhangig gemaak na aanleiding van sy uitlatings oor boere tydens ʼn onderhoud op die SABC se Morning Live ontbytprogram op 28 Januarie verlede jaar. Sexwale het in die onderhoud gesê kommersiële boere wat van hul werkers ontslae raak is die hoofoorsaak van die groot plakkerskampe in Suid-Afrika. Sexwale het dié boere as boos beskryf. Agri-SA het in reaksie hierop gesê Sexwale maak beskuldigings wat nie gekontroleer kan word nie en wat skade berokken aan die karakter van kommersiële boere. Die mensregtekommissie se kommissaris, Sandi Baai, sê egter volgens hulle bevindinge het Sexwale slegs sy opinie gegee en dit nie as ʼn feit voorgehou nie en dus is dit nie haatspraak nie. Sy het egter gemaan dat politici twee keer moet dink voor hulle sulke uitlatings maak. Agri-SA het intussen aangedui dat hy moontlik appèl gaan aanteken teen die kommissie se bevindinge. Agri-SA se president, Johannes Möller, sê in die konteks van die land se rekord van plaasaanvalle, is dit sy organisasie se plig om Sexwale aan te vat oor sy uitlatings en klem te lê op die gevolge hiervan op kommersiële boere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

nou kan ek sien by wie het Julius Malema geleer………………………..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.