Minister se uitlatings oor Woolworths-rasbeleid gee pas aan

Mildred Oliphant. Foto: The New Age

Die nuwe voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming sal tot gevolg hê dat die minister van arbeid regulasies kan uitvaardig wat maatskappye kan dwing om die nasionale demografie in streke toe te pas. Die kabinet het goedgekeur dat die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming aan die parlement voorgelê kan word.

Mildred Oliphant, die minister van arbeid, het verlede week Woolworths se benadering tot regstellende aksie geloof terwyl Solidariteit volhou dat die groep se benadering op onbillike diskriminasie neerkom. Johan Kruger, woordvoerder vir Solidariteit, sê die minister het die proses vir openbare kommentaar op die voorgestelde wetswysigings vooruitgeloop. “Die minister het dit laat blyk dat sy ten gunste van die ideologie van absolute rasseverteenwoordiging is. Dít wek kommer oor die inhoud van regulasies wat die minister sal uitvaardig indien die wetswysigings in sy huidige vorm deur die parlement aanvaar word.”

Kruger sê dié ideologie is nie werkbaar of grondwetlik nie en die vakbond beveg dit reeds waar dit in die staat toegepas word by onder meer die departement van korrektiewe dienste en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Kruger sê die nuwe voorgestelde wysigings sal die minister van arbeid se mag uitbrei om absolute verteenwoordiging op werkgewers in die staat en privaat sektor af te dwing.

“Artikel 42(2) en 42(3) van die nuwe wysigingswetsontwerp stel die minister van arbeid in staat om regulasies uit te vaardig wat enige aangewese werkgewer kan dwing om sy personeelkorps op elke posvlak en in elke werkplek ’n weerspieëling van die nasionale rassedemografie te maak.” Solidariteit het ten tyde van die vorige voorgestelde wysigings gewaarsku dat dit tot gevolg kan hê dat werknemers noodgedwonge na ander streke sal moet verhuis om werk te kry. “Die nuwe wysigings gee die staat steeds die mag om die nasionale rassedemografie af te dwing en laat unieke streeksverskille buite rekening.”

Kruger sê die huidige wet bepaal dat ’n aantal faktore in ag geneem moet word wanneer ’n werkgewer se voldoening aan die wet bepaal word. Dit sluit die volgende in: die beskikbare poel van mense met geskikte kwalifikasies; ekonomiese en finansiële faktore; die sektor waarin die werkgewer sake doen; die beskikbaarheid van vakante poste; en die personeelomset. “Ten spyte van fel kritiek op die vorige wysigingswet se identiese voorstelle, skrap die nuwe wysigingswet steeds hierdie bepalings en die faktore wat nie geskrap word nie, hoef ook nie meer noodwendig in ag geneem te word nie.” Die nuwe wysigingswet stel ook voor dat die maksimum boete vir oortreding van die wet van R900 000 tot soveel as 10% van ’n werkgewer se jaarlikse omset verhoog moet word. “Hierdie benadering van swaarder strawwe om die mislukte ideologie van absolute rasseverteenwoordiging af te dwing, is nie die antwoord op bemagtigingsprobleme in Suid-Afrika nie,” sê Kruger.

Solidariteit sal aan die parlementêre proses deelneem ten einde te verseker dat foute in die voorgestelde wetswysigings reggestel word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

K. Botha ·

Die gemors waarin die land hom bevind is die direkte gevolg van regstellende aksie. Mense wat nie bevoeg is vir die werk nie kan dit nie doen nie maar word steeds aangestel. Suid Afrika is die enigste land in die wereld waar die meerderheid deur regstellende aksie beskerm en bevoordeel word.

Brenda ·

Miskien is dit omdat die meerderheid, sonder regstellende aksie wetgewing en, net op grond van meriete, NOOIT die paal sou gehaal het nie!!! Nou moet die gekwalifiseerde, bevoegde minderheid deur wetgewing gedwing word om terug te staan en te aanskou hoe alles in vlamme, by wyse van spreke, opgaan. Daar is niemand so blind soos die wat nie wil sien nie, en so doof soos die wat nie wil hoor nie, of moet ek se, so dom soos die wat nie KAN dink nie.

Chris van Rensburg ·

Ek sou wat die demografie betref graag wou sien hoeveel winkels Wool Worths in swart en anderskleurige woongebiede het aangesien hulle in al wat “mall””is in blanke woongebiede ‘n tak het .Hoe vergelyk hulle teenwoordigheid in anderskleurige woongebiede se winkelsentrums/
“:malls”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.