Minister van vervoer se naam in 419-slenter gebruik

Minister Dipuo Peters

Minister Dipuo Peters

Dipuo Peters, minister van vervoer, se naam word glo gebruik in ʼn 419-slenter wat aanvoer die minister het miljoene dollar en sy benodig hulp om dit te skuif.

“Laat ek myself eerstens voorstel as mev. Elizabeth Dipuo Peters,” voer die bedrieër in die e-pos aan. Die e-posadres [email protected] word gebruik.

“Ek is ʼn gesiggestremde weduwee, ʼn ma van twee kinders en voormalige premier van die Noord-Kaap (22 April 2004 – 10 Mei 2009) onder leiding van pres. Thabo Mbeki. Ek is sedert 11 Mei 2009 verkies tot minister van energie in die Republiek van Suid-Afrika.”

Peters is egter minister van vervoer.

Die bedrieër sê sy het die ontvanger se kontakbesonderhede “op persoonlike versoek” deur die “internasionale uitruil van inligting” ontvang sodat hulle ʼn betroubare en geloofwaardige individu in die buiteland kon kry.

“Ná ʼn gesprek met my kinders het ek besluit om jou te nader as ʼn begunstigde vir die bedrag van $30.5 miljoen (meer as R300 miljoen).”

Die e-pos is ʼn voorbeeld van ʼn gevorderdefooi-bedrog wat ook as ʼn 419-slenter bekend staan. Die syfer 419 verwys na die artikel in die Nigeriese kriminele kode wat oor bedrog handel.

ʼn Slagoffer ontvang ʼn e-pos waarin die persoon se hulp benodig word om ʼn groot bedrag geld te bekom. In ruil daarvoor sal die helper ʼn gedeelte van die geld ontvang.

Die bedrieër voer aan dat sy, nadat haar man in 1986 gesterf het, ontdek het haar man het die geld in ʼn rekening by ʼn finansiële instelling in Suid-Afrika gelaat. Indien die persoon sou instem, sal die helper as begunstigde aangewys word en uiteindelik 20% van die bedrag as ʼn fooi ontvang, plus 5% van enige ander onkoste wat aangegaan is.

Die e-pos gee ʼn Suid-Afrikaanse selfoonnommer aan as kontakbesonderhede en herinner die leser daaraan dat die transaksie as streng vertroulik hanteer moet word.

Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het gesê die misdaad is algemeen in Suid-Afrika. “Oortreders teer op mense wat niksvermoedend is. As iets te goed lyk om waar te wees, dan is dit gewoonlik,” het Ramaloko gesê.

Die Valke het ʼn eenheid wat net op 419-slenters fokus.

Die departement van vervoer was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.