Minister versoek alkoholverbod by staatsfunksies

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het ‘n beroep op haar kollegas gedoen om ‘n voorbeeld te stel en ‘n verbod op alkohol te plaas by alle regeringsfunksies, het City Press Sondag berig.

“Ons versoek alle regeringsamptenare om asseblief nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie,” het Dlamini gesê. Haar versoek kom op die vooraand van haar departement se Alkohol- en Dwelmmiddelvrye feesseisoen wat Woensdag in die Wes-Kaap afskop. Die veldtog met die tema “Na ‘n alkohol- en dwelmmiddelvrye Suid-Afrika” is deel van ‘n interministeriële program. Dit sluit ook ‘n omstrede versoek in om drankadvertensies te verbied wat, volgens Dlamini, in die begin van die eerste kwartaal in 2012 aangespreek sal word. Dlamini wat reeds verlede jaar alkohol by funksies wat deur haar departement aangebied is verbied het, het aan City Press gesê dat dwelmmisbruik tot baie maatskaplike euwels lei. “Dit speel selfs ‘n rol in die verspreiding van HIV/Vigs as gevolg van onveilige seksuele gedrag wat gepaard gaan met alkoholmisbruik. Dit speel ook ‘n rol in misdaad en geweld teen vroue en kinders. Ons land se fetale alkoholsindroomkoers is van die hoogste in die wêreld,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.