Minister vra ondersoek na ontsnappingspoging

Die foto is deur die gebruiker @ShahanR op Twitter gelaai.

Die vermeende bankrower, Bongani Moyo, en sy twee medebeskuldigdes is Woensdagmiddag bebloed, gekneus en mank voor die media geparadeer kort nadat hulle amper uit die Pretoria Sentraal gevangenis ontsnap het.

Pretoria News berig dat Moyo, Khumbulani Sibanda en Themba Dube kort na die gefnuikte ontsnappingspoging, deur die minister van korrektiewe dienste, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, Tom Moyane, geroskam is in aanskoue van die media. Dube het sy been gebreek tydens die ontsnappingspoging. Die drie se ontsnapping kom ʼn maand nadat daar glo ammunisie, ʼn plastiekgeweer, ʼn sleutel van ʼn sel en ʼn sleutel gietvorm in hulle aanhoudingselle gevind is. Die ontsnappingspoging het glo plaasgevind tydens oggendoefening. Die drie mans word ondergrond in die “kelder” aangehou. Moyo was glo in besit van ʼn ystersaaglem waarmee hulle deur die boeie gesny het. Hulle het glo die tronkbewaarders oorweldig en een van hulle in die hand gesteek met ʼn skerp voorwerp. ʼn Koerantverkoper voor die tronk het gesien hoe die drie probeer ontsnap en alarm gemaak. “Die een het oor die pad gehardloop. Hy is by die vulstasie oorkant die pad gevang saam met die ander wat op die heining vasgesit het en die ander een wat in die pad was.” Mapisa-Nqakula sê ʼn ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal hoe die gevangenes ontsnap het. Moyo het in Maart verlede jaar uit die Boksburg gevangenis ontsnap en is in Mei weer in hegtenis geneem. In Augustus verlede jaar het hy uit die Pretoria landdroshof ontsnap en is hy weer ʼn maand later in hegtenis geneem.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.