Minister vra Valke moet Puk-student se verdrinking ondersoek

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het die Valke gevra om ondersoek in te stel na die verdrinking van ’n eerstejaarstudent in Januarie 2012 by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus nadat daar glo nuwe inligting aan die lig gekom het.

Nzimande sê in ʼn verklaring daar is glo videomateriaal rakende die student se dood sowel as geskrewe verklarings deur voormalige NWU-veiligheidspersoneel wat nie deel van die vorige ondersoek gevorm het nie. Thabang Makhoang (19), ‘n eerstejaar-ingenieurstudent het tydens die jaarlike vrugtefees – waar studente waatlemoene eet en mekaar daarmee smeer – verdrink. Dr. Theuns Eloff, visekanselier van die NWU, sê die universiteit is egter nie bewus van enige nuwe inligting nie. Hy sê die universiteit wag op ʼn amptelike reaksie van minister Nzimande. Volgens Eloff het Nzimande na die student se dood ʼn ondersoek aangevra en is die saak deur die polisie en intern deur die universiteit ondersoek. Hy sê die uitslag van die ondersoek en daaropvolgende verslag is aan die adjunk direkteur-generaal by die departement oorhandig. Die universiteit se onafhanklike ondersoek het bevind dat geen vuilspel by Makhoang se dood betrokke was nie en dat geen persoon of entiteit verantwoordelik vir sy dood gehou kan word nie. Volgens die minister wag hy steeds op ʼn verslag rakende die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.