Verskeie motoriste en passasiers is gered nadat hulle in oorstroomde paaie in Soweto, Johannesburg vasgevang was.
“Die persone is by Klipspruit Valley en New Canadaweg gered nadat hul voertuie weens swaar reënval vasgeval het,” het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die stad Johannesburg se nooddienste, gesê. Vier mense uit twee sedans en ‘n taxi is by New Canadaweg gered. Die voertuie het Saterdagoggend op ‘n oorstroomde pad onder ‘n brug vasgeval.
Drie ander mense is ook uit twee voertuie by Klipspruit Valleyweg in Nancefield gered. “Niemand is beseer nie,” het Mulaudzi gesê. “Motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak, aangesien oorstroomde paaie vir verkeer gesluit is.”
‘n Deel van die M2-snelweg is glo ook oorstroom.
Swaar reënval en koue weer is oor die afgelope 24 uur in meeste dele van die land ervaar. Die Suid-Afrikaanse weerdiens dui aan dat die reën en koue weer vir die res van die naweek kan voortduur.