Misdaad teen die mensdom: Adj-pres van Kenia se verhoor begin Dinsdag

Uhuru Kenyatta (links) en Ruto. Foto:AP

Uhuru Kenyatta (links) en Ruto. Foto:AP

Terwyl die Internasionale Strafhof (ICC) in Den Haag met die laaste voorbereidings besig is vir die verhoor van Kenia se adjunk-president, William Ruto, het Kenia se laerhuis gestem om bande met die ICC te verbreek. Die Hoërhuis sal dit na verwagting rubberstempel.

Die laerhuis het oorweldigend gestem ten gunste van die opsegging van lidmaatskap van die Statuut van Rome ingevolge waarvan die strafhof in 2002 in die lewe geroep is. Die opposisie het tydens die debat uitgestap.

Ruto moet teregstaan op aanklagte van misdade teen die mensdom. Hy, en die onlangs-verkose president van Kenia, Uhuru Kenyatta, word van onregstreekse betrokkenheid beskuldig vir die bloedbad wat na die verkiesing van 2007 uitgebreek het. ‘n Duisend mense is in die geweld dood, en sowat 600 000 is te midde van geweld soos die afkap van penisse en gedwonge besnydenis ontwortel.

Volgens die bemiddeling wat deur die VN geïnisieer is, moes Kenia self die geweld ondersoek en stappe neem, maar ‘n ondersoek het eenvoudig uitgebly tot die ICC besluit het om self die vervolging te behartig.

Kenyatta se verhoor is van dié van Ruto geskei en sal in November begin.

Kenyatta sal die eerste dienende staatshoof wees wat voor die ICC teregstaan. Voormalige regeringsleiers soos Slobodan Milosevic (Joego-Slawië), Charles Taylor (Liberië) en Laurent Gbagbo (Ivoorkus) is al voor die hof gesleep.

Kenia se onttrekking van die Statuut van Rome beïnvloed volgens die internasionale reg nie bestaande sake nie, en Ruto en Kenyatta behoort dus steeds tereg te staan.

Vroeër is berig dat tot ‘n 100 parlementslede van Kenia in Den Haag verwag word om Ruto te ondersteun.

Politieke ontleders is bekommerd dat Kenia hom van sy Westerse bondgenote kan vervreem, en hom in internasionale isolasie kan bevind.

Uhuru Kenyatta het reeds voor sy verkiesing as president daarop aanspraak gemaak dat Kenia sowat 95 persent van sy begroting self finansier en dus sonder buitelandse hulp kan klaarkom, Die volledige prentjie is dat Kenia se skuld bykans die helfte van sy BNP beloop, en dat heelwat hulp uit die buiteland nie deur die staatskas vloei nie, waaronder Amerikaanse militêre bystand en fondse vir antiretrovirale middels. Ander bronne stel Kenia se afhanklikheid van buitelandse hulp om die boeke te laat klop op sowat 15 persent.

Meer  besonderhede oor die agtergrond tot die verhoor kan hier in die Christian Science Monitor of hier in Trouw gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

german ·

Vir al die kere wat ander pad gekyk word as daar ‘n plaasmoord gepleeg word! Vir al die kere wat aangevra is vir ‘n spesiale taakmag en ondersoek en daar niks van kom nie! En nou vir die koerante wat weier om plaasmoorde te publiseer! Die ontkenning v plaasmoorde gaan terug kom en soos ‘n adder in die haakskeen byt. Onskuldige bloed roep uit die grond uit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.