Misdaadintelligensiesaak: Richard Mdluli gedagvaar as getuie

Richard Mdluli. Foto: Werner Beukes / SAPA

Richard Mdluli. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die vakbond Solidariteit verwag dat huidige en voormalige hooggeplaaste polisielede, insluitend lt.genl. Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, sal getuig in ’n saak van onbillike arbeidspraktyke wat Maandag ’n aanvang in die arbeidshof in Johannesburg neem.

’n Voormalige lid van die Skerpioene, twee lede van die Valke en verskeie SAPD-lede is gedagvaar om in die omstrede saak, wat Solidariteit namens kol. Kobus Roos voer, te getuig.

Solidariteit voer in hofstukke namens Roos aan dat hy geviktimiseer is ná sy beskermde bekendmaking van omvattende korrupsie en plundering van geheime polisierekeninge. Volgens Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sal Roos, wat by tye direk aan Mdluli moes rapporteer, aanvoer dat sy onbillike behandeling verband hou met die ondersoeke waarin hy getuienis van omvattende korrupsie en bedrog binne die polisie ingewin het.

“Dit is duidelik dat Mdluli een van die SAPD se hoofgetuies in die saak moet wees, aangesien ʼn dagvaarding uitgereik is vir sy verskyning as getuie,” het Kruger gesê. “Alhoewel die hofsaak in wese oor ʼn onbillike arbeidspraktyk handel, is dit onvermydelik dat die aard en bevindinge van Roos se ondersoeke ter sprake sal kom. Dit was juis Roos se bevindinge wat daartoe gelei het dat hy geteister, geviktimiseer en na ’n pos geskuif is waar hy ledig is en nie meer die ondersoeke kon voortsit nie. Ons is van mening dat die openbaarmaking van beweringe van korrupsie en bedrog eerder beloon moet word as dat ʼn werknemer soos Roos daardeur benadeel word.”

Kruger sê dat Solidariteit in die eerste plek die belange van sy kliënt sal dien, maar dat hy terselfdertyd die opsie oophou om enige inligting of getuienis oor korrupsie wat na vore mag kom, onder die aandag van die openbare beskermer te bring. “Solidariteit verstaan dat Roos se ondersoeke dalk maar net die oortjies van die seekoei is en dat dit aanduidend van groter plundering in die SAPD mag wees. Solidariteit sal die getuienis deur Mdluli en andere dus fynkam met die oog op die oorhandiging van ’n dossier aan die openbare beskermer.”

Solidariteit versoek dat Roos heraangestel word in sy vorige posisie in die interne-ouditafdeling aangesien die pos wat hy tans beklee hom feitlik geen werk bied om te doen nie en hy aan ondraaglike werksomstandighede onderwerp word.

Die saak is vir tien dae op die hofrol geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.