Misdaadlyn het 3 000 agter tralies

Die misdaadlyn Crime Line het Dinsdag hul vyfde bestaansjaar gevier en het sover ʼn sleutelrol in die stryd teen misdaad gespeel.

Die geleentheid is by Montecasino in Johannesburg gevier. In die vyf jaar wat die misdaadlyn in werking is, is meer as 3 000 misdadigers in hegtenis geneem, beslagleggings van sowat R40 miljoen is gemaak en 21 van die land se mees gesoekte misdadigers het agter tralies beland.

Yusuf Abramjee, die hoof van Crime Line, het gesê die lyn het al meer as 17 000 wenke hanteer. “Terwyl ons die suksesse vier, is die syfers egter nog nie genoeg nie. Ons kort meer wenke van die gemeenskap en ons kort meer in inhegtenisnemings en vervolgings. Te veel mense bly stil en beskerm misdadigers. Moenie bang wees nie, breek die stilte sodat ons ons strate kan terugneem. Crime Line is totaal anoniem. Gebruik jou vingers en SMS wenke na 32211,” het hy gesê.

Hy het ‘n beroep op Ria Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, gedoen om spesiale eenhede soos die narkotika-buro weer op die been te bring.

“Crime Line gaan in die komende maande ook met die polisie saamwerk in ʼn nasionale veldtog om nog meer mees gesoekte kriminele agter tralies te kry,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.