Mislukte rooftog glo nie intern gereël nie

Drie van die nege vermeende rowers wat in ‘n skietgeveg met die polisie by Robertsville gewond is, is uit die hospitaal ontslaan.

“Hulle is Sondag ontslaan en is in polisie-aanhouding. Hulle sal Dinsdag in die Roodepoortse landdroshof verskyn,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê. ‘n Groep van 16 mans was Saterdagaand glo van plan om Protea Coin se kontantdepot in Robertsville, wes van Johannesburg te beroof. Tydens ‘n skietgeveg met die valke is sewe doodgeskiet, en nege gewond. Berigte vroeër het aangedui dat daar 20 gewapende mans was, maar Ramaloko het bevestig dat die polisie nie na enige ander verdagtes op soek is nie.

Die Valke het beslag gelê op 11 voertuie en ‘n aantal vuurwapens.

Intussen het Protea Coin Sondag gesê dat hulle die moontlikheid dat die rooftog intern gereël is, uitsluit, berig EWN. Die maatskappy het inligting oor die rooftog ontvang wat hy toe aan die polisie oorhandig het. Die polisie het die depot Saterdagnag bewaak.

Toe die gewapende mans by die kontantdepot opdaag, en met een van hul voertuie in die hek vasjaag, het die polisie op hulle toegesak. Val de Waal, woordvoerder van Protea Coin, het gesê dit lyk soos die werk van ‘n organiseerde misdaadring. “Ons is oortuig dat ons die bende en sy ringleiers vasgetrek het,” het Ramaloko bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.