Moby Dick-asteroïde skoonveld

Die Slooh-teleskoop

Die Slooh-teleskoop

Die groot afwagting om te kan volg hoe ʼn reuse asteroïde Dinsdag verby die aarde beweeg, het ‘n yslike teleurstelling opgelewer toe die teleskoop Slooh, wat hom sou volg en die beelde na duisende Slooh-volgers se rekenaars sou stuur, vasgevries het.

Die teleskoop, op die Kanariese Eilande, kon dus nie die asteroïde volg nie.

Die asteroïde is in 2000 ontdek, en sy amptelike naam is 2000EM26. Dit het die bynaam Moby Dick gekry, en is na raming so groot soos drie rugbyvelde.

Sy verbyvlug het gekom omtrent ‘n jaar na ‘n asteroïde van ‘n geraamde 20m in deursnee oor Rusland neergestort het.

Die jongste besoeker het op ‘n afstand van ongeveer 8,8 keer die afstand van die maan vanaf die aarde, by die aarde verbygeblits. In sterrekundige terme is dit nader as ‘n hanetreetjie. Dit trek teen sowat 43 000km/h.

In ‘n inskrywing op die RSG-program Sterre en Planete se Facebookblad, meld ‘n Slooh-lid dat die asteroïde nie sy opwagting gemaak het waar Slooh bereken het dit sou wees nie. ‘n Beroep is op amateur-sterrekundiges gedoen om die vermiste asteroïde te help opspoor. Dit word beskryf as ʼn soektog na ʼn naald in ʼn hooimied.

Aardbewoners hoef egter nie bekommerd te wees dat die geringe berekeningsfoutjie daarop kan dui dat Moby Dick die aarde kan tref nie – dit het reeds Dinsdag by die aarde verbygetrek. ‘n Asteroïde so groot soo Moby Dick sal ‘n krater met ‘n deursnee van ongeveer 5km op die aardoppervlak veroorsaak.

Foto: Slooh-teleskoop

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.