‘Modimolle-monster’ glo hy het nie ‘n misdaad gepleeg nie

Johan Kotze, die sogenaamde “Modimolle-monster” op 15 April 2013 in die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Waarskuwing: Die getuienis is soms eksplisiet en kan sensitiewe lesers ontstel.

Johan Kotze, die sogenaamde ‘Modimolle-monster’, het glo nie besef dat hy sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, seergemaak het totdat hy bloed gesien het nie, het die Pretoriase hooggeregshof Donderdag gehoor.

Kruisverhoor deur Van As
“Ek het toe opgehou,” het Kotze aan die hof gesê in reaksie op ‘n vraag van Francois van As, die prokureur van twee van sy medebeskuldigdes, Pieta Mohlane en Frans Mphaka.

Kotze word daarvan beskuldig dat hy op 3 Januarie 2012 in sy huis in Modimolle die bendeverkragting van sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, gereël het en dat hy sy stiefseun, Conrad Bonnette, doodgeskiet het. Mohlane, Mphaka en Andries Sithole word van die ontvoering, aanranding herhaaldelike verkragting en poging tot moord op Ina Bonnette aangekla.

“Ek het geweet ek was kwaad, en toe is ek daar weg. Ek het iets gegryp en toe het ek in woede uitgebars,” het Kotze gesê. “Daardie dag en ‘n normale dag is nie dieselfde nie. Ek was heeltemal ‘n ander tipe mens.”

Van As het toe ‘n naald, wat ontdek is in die kamer waar Bonnette gemartel is, aan Kotze oorhandig en gevra of dit die naald is waarmee hy Bonnette gedreig het. “Ek kan nie sê of dit dieselfde een is nie, dit kan ‘n soortgelyk een wees.”

Van As het Kotze gevra of daar enigiets is wat hy onthou of wat hy wil sê. “Jy het nou die geleentheid om skuld te beken. ‘n Kind is dood en mense is getraumatiseer,” het Van As gesê. Kotze het dit van die hand gewys en gesê hy sal slegs die vrae beantwoord wat aan hom gestel word.

Bonnette en Kotze se dogter, Jo-Marie Kotze het Donderdag weer in die publieke galery gesit.

Kotze het gesê hy kan nie onthou dat hy Bonnette se borste en geslagsdele vermink het nie. “U edelagbare, hierdie dinge het gebeur, maar ek kan nie onthou wat daardie dag gebeur het nie.”

Kruisverhoor deur Meintjes
Staatsaanklaer Retha Meintjes het Bonnette se beserings aan Kotze beskryf. Hy het telkens óf ontken dat hy dit gedoen het, óf gesê hy kan nie onthou dat hy dit gedoen het nie. Meintjes het ‘n kantsnyer, ‘n spyker en ‘n mes aan die hof voorgehou en aan die hof vertel hoe Kotze beide Bonnette se tepels afgesny en haar geslagsdele gesny het. Sy het verder verduidelik dat Kotze hierna ‘n naald in Bonnette se wonde gedruk het. “Ek het nooit ‘n spyker gebruik nie. Ek het nooit eers ‘n spyker gehad nie,” het Kotze gesê.

Hy erken dat hy ontstoke was terwyl Bonnette aan die bed vasgebind was. “Ek weet ek het rondgeloop. Ek het die kantsnyer opgetel en ek was baie kwaad.”

Hy sê hy het haar daarmee gedreig en onthou net dat hy bloed gesien het. Hy het nie besef dat hy Bonnette beseer het totdat hy bloed gesien het nie.

Hy sê hy het net ‘n herinnering dat hy gesien het hoe een van Bonnette se borste bloei.

Meintjes het hom gevra oor ‘n bloedstollingsmiddel wat hy op Bonnette gebruik het. “Ek wou haar help,” het Kotze gesê. Hy sê dit is gebruik om die bloeding te stop, maar as hy nou weer daaraan dink sou hy dit nie gebruik het nie.

Meintjes het vir Kotze gevra waarom hy nie Bonnette losgemaak het nie. “Dit is een van die goed wat my gepla het. Ek kan nie dink waarom ek haar nie losgemaak het nie.”

Meintjes wou by hom weet hoe hy sekere gebeure onthou, maar ander vergeet wat daardie dag gebeur het. “Dit is ‘n toestand wat vir my baie ernstig is,” het hy gesê. Kotze sê sy geheue sedert Oujaarsaand 2011 is beïnvloed. Hy het getuig dat hy gesien het hoe Bonnette hom verkul.

Meintjes het hom verder uitgevra oor die moord op Conrad. Kotze hou vol dat Bonnette Conrad wou bel om hom te vra om na die huis toe te kom. “Daar was niks verkeerd tussen my en Conrad nie. Hy het my vertrou.”

Kotze het die getuienis van Conrad se vriend, wat hom daardie dag na Kotze se huis vergesel het, verwerp. Marthinus Cloete het gesê Kotze het hom aangesê om ‘n boks of ‘n krat in die motorhuis te gaan haal, terwyl Conrad in die huis in gegaan het om na sy ma te soek. “Ek dink Cloete is na die motorhuis toe om te gaan wegkruip,” het Kotze gesê. Hy sê die krat was net buite die huis, en nie naby aan die motorhuis nie. Hy sê Cloete het getuig dat hy nie die konfrontasie in die huis gehoor het nie. “Daar is nie ‘n manier wat Cloete nie die skote gehoor het nie.”

Kotze het aan die hof gesê hy wou nie na foto’s van Conrad se liggaam kyk nie. “Dit ontstel my te veel.” Hy onthou egter dat Conrad gesê het, “Nee oom, moenie.” “Alles het net gebeur. Ek het die skoot gehoor.”

Meintjes wou by hom weet waarom, indien hy en Conrad so ‘n goeie verhouding gehad het, hy om sy lewe sou smeek toe hy Kotze gesien het. “As ek vandag terugdink, dan moet dit wees omdat hy die vuurwapen in my hand gesien het. Hy het gedink ek sou hom skiet.”

Meintjes het verder gesê Conrad is drie keer geskiet: een keer in die kop, een keer in die bors en een keer in die knie. Kotze sê hy was verras om te hoor Conrad is drie keer geskiet, en hou vol dat hy nie na Conrad toe gemik het nie. “Ek kan glad nie so iets onthou nie. Daar was geen rede nie. Ek wou dit nie doen nie,” het hy gesê. Volgens Kotze het hy net een skoot gehoor. “Ek het ‘n skoot gehoor. Ek was baie bang.”

Meintjes het hom hierna uitgevra oor die aand wat Bonnette hom glo met ‘n ander man verkul het. Hy was glo na ‘n oujaarsdans en het gesien hoe sy liefderyk met ‘n ander man gesels. Kotze het erken dat hy hulle afgeloer het. “Ek kon nie glo wat ek sien nie,” het hy gesê. Hy getuig verder dat, hoe moeilik dit ook vir hom was, hy hulle na haar huis toe gevolg en verder afgeloer het. “Dit het net die prentjie voltooi. Dit was ‘n totale leuen.” Kotze sê hy het tydens hul huwelik baie vrae gehad oor haar getrouheid en dít wat hy Oujaarsaand gesien het, het glo baie verduidelik.

Meintjies wou by Kotze weet wat hy gehoop het om te sien deur hulle na Bonnette se huis te agtervolg. Sy voer aan Kotze het reeds gesien Bonnette is saam met ‘n ander man. “Presies wat ek daardie aand gesien het… Ek is bly ek het dit gesien,” het Kotze gesê. Hy het getuig hoe hy gesien het dat die twee soen en hoe die man aan Bonnette se borste vat. Meintjes sê egter dat, ondanks dít wat hy gesien het, het hy nooit reageer of hulle konfronteer nie. “Ek is nie iemand wat instorm en mense seermaak nie,” het hy geantwoord.

Hy het glo verraai gevoel deur haar ontrouheid. Hy het sy plaas in Bloemfontein verkoop en hulle het saam ‘n huis gekoop. “Ons sou een gesin geword het.”

Volgens Kotze was Bonnette se egbreuk soos verraad. “Ek word nie só verwerp nie. Dit was verraad teen my,” het Kotze gesê.

Kommentaar deur regter Bam
Regter Bert Bam het Kotze aan die einde van die dag gevra of Kotze dink hy het ‘n misdaad gepleeg, toe hy, ná alles wat gebeur het, die huis verlaat het. “Glad nie,” het Kotze gesê. “Ek het nie aan Ina of Conrad gedink toe ek daar weg is nie.”

Bam wou by hom weet waarom hy dan gevlug het. Kotze het verduidelik dat hy nie gevlug het nie, hy het net in sy motor geklim en weggery.

Die saak duur voort.

Lees ook:
‘Modimolle-monster’: Kotze onder kruisverhoor
Modimolle-monster vandag onder kruisverhoor
“Modimolle-monster” vandag dalk in getuiebank
“Modimolle-monster” glo ‘onbevoeg’; dokter getuig
“Modimolle-monster” weer in hof
Man afgedank ná hy “Modimolle-monster” op Facebook ‘loof’
Modimolle-monster: Saak uitgestel
‘Modimolle-monster’: Kotze se brief opgespoor
Modimolle-monster: “Geen tekens van verkragting”
Modimolle-monster: ‘Martelinstrument’ het haar ook bevry
‘Modimolle-monster’ se vriend, dogter getuig
Verdere getuienis in ‘Modimolle-monster’-saak
“Hulle kon haar nie verkrag het nie”
‘Modimolle-monster’ erken hy het seun geskiet
‘Modimolle-monster’: “Dit is nie in my aard om iemand seer te maak nie
‘Modimolle-monster’: “Ek het Ina probeer beskerm”
‘Modimolle-monster’ het glo oor kanker gejok
‘Modimolle-monster’: Ek het jou lief daarom martel ek jou
“Hy het my kind vrek geskiet”
‘Modimolle-monster’: Vermoorde seun se vriend getuig
‘Modimolle-monster’ weier om te pleit
‘Modimolle-monster’: Ina sal moontlik eerste getuig
‘Modimolle-monster’: Verhoor begin
‘Modimolle-monster’ geskuif ná selmaats kla
‘Modimolle-monster’ geskik vir verhoor
‘Modimolle-monster’ weer agter tralies
‘Modimolle-monster’ bly langer in Weskoppies
‘Modimolle-monster’: Saak uitgestel, alle name nou bekendgemaak
‘Modimolle-monster’: Nog twee verdagtes verskyn in hof 
‘Modimolle-monster’: Vierde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Derde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Vervreemde vrou vertel
‘Modimolle-monster’: “Ek wou haar net klein bietjie seermaak”
‘Modimolle-monster’: Hoe hy vasgetrek is
‘Modimolle-monster’ uiteindelik gevang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.