‘Modimolle-monster’ het Ina glo verafgod

Johan Kotze, die sogenaamde “Modimolle-monster” op 15 April 2013 in die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Aantygings dat Johan Kotze, die sogenaamde ‘Modimolle-monster’, nie aanspreeklik gehou kan word vir sy dade nie, is Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof in twyfel getrek.

Dirk Coetzee, die kliniese sielkundige wat Kotze tydens sy observasie by Weskoppies Psigiatriese Hospitaal in Pretoria ondersoek het, het bevind dat hy wel strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir die aanval op sy vrou en die moord op haar seun.

Die verslag oor Coetzee se assessering op Kotze is Dinsdagmiddag aan die hof voorgehou. ‘n Ander kliniese sielkundige, Tertia Spangenberg, het tot ‘n ander gevolgtrekking gekom jeens Kotze.

Aanklaer Retha Meintjes het Spangenberg in die Pretoriase hooggeregshof kruisondervra oor haar verslag oor Johan Kotze. Klik hier om meer te lees. Spangenberg het ingestem dat Kotze se optrede, gebaseer op die staat se weergawe van die gebeure, rasioneel kan wees. Meintjes het haar verwys na Kotze se optrede, naamlik dat hy sy medebeskuldigdes opdragte gegee het, na ‘n kas toe geloop het om gereedskap te gaan haal om Ina Bonnette se geslagsdele te vermink en die vuurwapen herlaai het. Spangenberg het egter bygevoeg dat sulke opdragte nie die gedrag van ‘n rasionele persoon is nie.

Kotze word daarvan beskuldig dat hy die groepverkragting van Bonnette gereël en sy stiefseun, Conrad, op 3 Januarie 2012 by sy huis in Modimolle doodgeskiet het. Bonnette en Kotze was in die stadium steeds getroud, maar sy het in haar eie woonstel gebly.

Kotze se medebeskuldigdes, Andries Sithole, Pieta Mothlane en Frans Mphaka word van die ontvoering, aanranding, herhaaldelike verkragting en poging tot moord op Bonnette daardie dag aangekla.

Spangenberg het in haar verslag bevind Kotze is nie strafregtelik toerekenbaar vir sy dade nie.

Jan van Rooyen, Sithole se prokureur, het Spangenberg gevra waarom Kotze nie meer drasties opgetree het toe hy, volgens sy getuienis, op die drie mans afgekom het waar hulle haar aanval nie. Sy sê toe Kotze Bonnette op Oujaarsaand 2011 met ‘n ander man gesien het, is sy “narsistiese voorsiening” afgesny. Hy het haar voor daardie dag verafgod. “Hy het op die aand van die 31ste Ina Bonnette as sy narsistiese voorsiening verloor,” het Spangenberg gesê.

Sy verduidelik dat ‘n narsis, hoe sy Kotze diagnoseer het, homself met die mense sal omring wat daardie narsisme voer. Bonnette was glo hierdie bron. “Dit is waarom, nadat Kotze haar saam met iemand anders gesien het, hy nie meer drasties opgetree het toe hy gesien het hoe sy drie medebeskuldigdes haar aanval nie,” het sy gesê.

Volgens Kotze se getuienis het hy in die spaarkamer op die drie saam met Bonnette afgekom en gevra om haar nie seer te maak nie. Van Rooyen wou weet of ‘n narsis juis nie eerder tot geweld sou oorgaan nie. “Ek kan nie definitief sê dat so ‘n persoon tot geweld sou oorgaan nie,” het Spangenberg geantwoord.

Volgens Spangenberg was die dele wat Kotze glo oor die voorval vergeet het, regdeur haar assessering konsekwent. “Hy was baie gefrustreerd oor dele van die voorvalle wat hy nie kon onthou nie,” het sy gesê.

Spangenberg sê Kotze kon nie tot verhaal kom oor die feit dat Conrad dood is nie. “Ek kan nie Conrad doodmaak nie,” het hy glo aan haar gesê. Sy sê Kotze het nooit oor Conrad se dood in die verlede tyd gepraat nie. “Ek sal nooit Conrad kan doodmaak nie. Ek kan nie Conrad skiet nie.”

Volgens Coetzee se verslag, daarenteen, kan Kotze die gebeure baie goed onthou en het hy presies geweet dat dit wat hy gedoen het verkeerd is of kan wees. “Tydens die uitvoering van die misdaad was die beskuldigde strafregtelik toerekenbaar vir die aanklagte teen hom en was hy in staat om die onregmatigheid van sy dade te waardeer en kon hy optree in ooreenstemming met ‘n waardering vir die onregmatigheid daarvan,” lui Coetzee se verslag.

Coetzee het sewe en ‘n half ure lank met Kotze spandeer om sy assessering by Weskoppies af te handel. Dit is oor vyf besoeke uitgestrek. Hy het Kotze tydens die onderhoude as samewerkend en aandagtig beskryf. “Hy het vryelik inligting verskaf.” Hy was met tye glo emosioneel en het gehuil.

Coetzee sê hy het geen abnormaliteit in die gedrags- of psigomotor (die verhouding tussen die kognitiewe funksies en fisiese beweging) opgemerk nie. “Sy bui was normaal, redelik positief, maar hy het nie benoud voorgekom oor sy huidige situasie nie.”

Volgens Coetzee het Kotze gereeld tydens sy onderhoude gesê dinge kon anders gewees het as hy oor sy gevoelens gepraat het en hulp van sy vriende aanvaar het. Kotze het tydens sy onderhoude aangevoer sy verhouding met Bonnette het mettertyd agteruitgegaan. “Die beskuldigde het sy verhouding met Bonnette beskryf deur aan te dui dat dit gekarakteriseer is deur gereelde konflik en verbale argumente.”

Volgens Coetzee wou Kotze versoen, maar nie Bonnette nie. Hy het tydens ‘n dans op Oujaarsaand 2011 uitgevind dat sy met ‘n ander man in ‘n verhouding is.

Coetzee sê Kotze het in besonderhede beskryf wat op 3 Januarie 2012 gebeur het. Hy het Kotze as ‘n kompulsiewe persoonlikheidstipe beskryf. “Alhoewel die beskuldigde nie oor al die karaktertrekke beskik om ‘n kompulsiewe persoonlikheidsafwyking te diagnoseer nie, vorm kompulsiewe-tipe eienskappe deel van sy persoonlikheid. Boonop het die beskuldigde afhanklikheidsbehoeftes wat blyk of dit talle aspekte van sy gedrag beïnvloed. Tydens die voorval het hy nie aan enige kliniese sielkundige versteuring gely nie.”

Coetzee sê Kotze toon tekens van ‘n kompulsiewe persoonlikheid en dat sommige depressie simptome aangemeld is.

Spangenberg se kruisondervraging duur Woensdag voort.

Lees ook:
‘Modimolle-monster’: Kliniese sielkundige volstaan met verslag
Kotze het geglo sy huwelik was ‘heilig’
‘Modimolle-monster’ glo hy het nie ‘n misdaad gepleeg nie
‘Modimolle-monster’: Kotze onder kruisverhoor
Modimolle-monster vandag onder kruisverhoor
“Modimolle-monster” vandag dalk in getuiebank
“Modimolle-monster” glo ‘onbevoeg’; dokter getuig
“Modimolle-monster” weer in hof
Man afgedank ná hy “Modimolle-monster” op Facebook ‘loof’
Modimolle-monster: Saak uitgestel
‘Modimolle-monster’: Kotze se brief opgespoor
Modimolle-monster: “Geen tekens van verkragting”
Modimolle-monster: ‘Martelinstrument’ het haar ook bevry
‘Modimolle-monster’ se vriend, dogter getuig
Verdere getuienis in ‘Modimolle-monster’-saak
“Hulle kon haar nie verkrag het nie”
‘Modimolle-monster’ erken hy het seun geskiet
‘Modimolle-monster’: “Dit is nie in my aard om iemand seer te maak nie
‘Modimolle-monster’: “Ek het Ina probeer beskerm”
‘Modimolle-monster’ het glo oor kanker gejok
‘Modimolle-monster’: Ek het jou lief daarom martel ek jou
“Hy het my kind vrek geskiet”
‘Modimolle-monster’: Vermoorde seun se vriend getuig
‘Modimolle-monster’ weier om te pleit
‘Modimolle-monster’: Ina sal moontlik eerste getuig
‘Modimolle-monster’: Verhoor begin
‘Modimolle-monster’ geskuif ná selmaats kla
‘Modimolle-monster’ geskik vir verhoor
‘Modimolle-monster’ weer agter tralies
‘Modimolle-monster’ bly langer in Weskoppies
‘Modimolle-monster’: Saak uitgestel, alle name nou bekendgemaak
‘Modimolle-monster’: Nog twee verdagtes verskyn in hof
‘Modimolle-monster’: Vierde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Derde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Vervreemde vrou vertel
‘Modimolle-monster’: “Ek wou haar net klein bietjie seermaak”
‘Modimolle-monster’: Hoe hy vasgetrek is
‘Modimolle-monster’ uiteindelik gevang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Katvis ·

Hy sit die vrouens ore aan en hulle val daarvoor. Hy toon wel sterk manipulerende gedrag en weet hoe om die bal te speel. Word wakker Me Spangenberg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.