‘Modimolle-monster’: Kotze getuig

Johan Kotze, die sogenaamde “Modimolle-monster” op 15 April 2013 in die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Johan Kotze het Dinsdag aan die Pretoriase hooggeregshof gesê dat hy nooit bedoel het om sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, seer te maak nie.

“Ek wou haar nie seermaak nie,” het hy gesê.

Kotze, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka word van die moord op Kotze se 19-jarige stiefseun, Conrad Bonnette, by Kotze se huis in Modimolle op 3 Januarie 2012 aangekla. Hulle word ook van die ontvoering, aanranding, herhaaldelike verkragting en poging tot moord op Ina Bonnette aangekla.

Kotze het aan die hof gesê hy het sy drie medebeskuldigdes aangetref besig om Bonnette in ‘n kamer in sy huis aan te val. “Ek het probeer om haar uit hierdie ding te kry, en probeer om haar te beskerm,” het Kotze gesê. Hy sê hy het probeer om hulle aan te vat, maar het met tye uit die vertrek gegan. “Andries [Sithole] het voor my gestaan en ek het net Ina se bene gesien… Ek het aan Andries se skouer gevat en hom gevra om asseblief nie Ina seer te maak nie.”

Bonnette, wat die verrigtinge bygewoon het, het haar kop geskud en met tye in ongeloof oor Kotze se getuienis gelag.

Kotze sê Sithole het hom oor geld uitgevra. Hy het sy drie medebeskuldigdes gehuur om werk by sy huis te doen. “Ek het hom aangesê om te gaan, om asseblief die huis te verlaat.” Hy sê die drie mans is later daar weg.

Kotze het huilend gesê hy is toe terug na die kamer waar Bonnette vasgebind was. “Ek was verskriklik kwaad, dit kan ek onthou.” Hy sê hy wou met Bonnette gepraat het oor Oujaarsaand, toe hy haar en ‘n ander man saam gesien het. Bonnette en die man het die danssaal glo saam verlaat. Hy sê Bonnette het gesê sy sal hom nooit verkul nie, maar hy het aan haar gesê ‘Ek het jou gesien’.

Hy het getuig dat hy die aand sy dogter se katjie van sy bed af gegooi het nadat hy Bonnette saam met die ander man gesien het. “Ek het iets gedoen wat ek nooit doen nie.. ek het die katjie baie aggressief van my af weggegooi.”

Kotze het in die huis rondgeloop en op Bonnette geskree. Hy het ‘n naald op die tafel gesien. “Ek het haar definitief konfronteer. Ek wou haar nie seermaak nie. Ek het weggestap, en dan het ek die bloed gesien, en dan het ek besef dinge loop skeef.”

Hy sê hy het Bonnette met die naald gedreig omdat hy haar saam met die ander man gesien het. “Ek het nie besef ek het die naald in haar borste ingedruk nie.” Hy sê hy het toe op ‘n tang afgekom. “En ek het net bloed gesien en ek het geskrik.”

Kotze het beskryf hoe hy langs Bonnette gaan lê het en met haar gepraat het. Hy het gesê hy sou een oomblik kalm wees en dan weer ontstoke.

Bonnette het hom gevra om haar seun, Conrad, te bel. Toe hy en ‘n vriend opgedaag het, het Kotze aan die ander seun gesê om iets buite die huis te gaan haal. Toe Conrad vra waar sy ma is, het hy hom na die kamer toe gewys. Terwyl die seun na die kamer toe gestap het, het hy ‘n vuurwapen opgetel.

“Ek kan nie onthou nie… al wat ek altyd sal onthou is dat hy gesê het, ‘nee oom, moenie,” het Kotze gesê. “’n Skoot het afgegaan. Ek het dit gehoor.” Kotze sê Conrad het teen die muur gehurk. Hy het ook gesit. “Ek het vir ‘n ruk lank daar gesit. Ek was baie geskok.”

Hy het beskryf hoe hy later in sy motor gesit en weggery het. Hy het eers by die huis aangegaan wat hy en Bonnette gebly het en later probeer selfmoord pleeg. Hy het in sy motor probeer selfmoord pleeg deur ‘n gasbottel oop te maak. “Ek het ‘n kombers oor myself gegooi en die gasbottel oopgemaak.” Kotze sê hy het later uit sy motor gestrompel. “Al wat ek weet is dat daar ‘n suising in my ore was.” Hy het huilend aan die hof gesê hy het van Conrad se dood oor die radio te hore gekom. Kotze sê hy het gereeld selfmoord oorweeg. “Ek het dit telkens oorweeg sedert ek en Ina vir die eerste keer uitgemaak het.”

Kotze is versoek om briewe as getuienis voor te lees wat hy geskryf het terwyl hy voortvlugtend was. Hy sê hy het sy eie handskrif herken, maar kon eers nie onthou dat hy dit geskryf het nie. “Ek moes dit by die huis geskryf het.” Die briewe, wat daagliks geskryf is, is aan Bonnette gerig. Die briewe sluit verskonings, aantygings en kommentaar oor sy geestelike toestand in voordat hy op 11 Januarie 2012 in hegtenis geneem is.

“Ina het my lewe ruïneer. Ek is klaar, klaar, klaar,” het Kotze gelees. “Ek sal myself aan die polisie oorgee. Ek berei net voor daarop. Dit is die regte ding om te doen. Ek is baie jammer.”

“Hoekom speel jy met jou liefde vir my? Ek besef dinge het baie skeefgeloop. Ek kan nie sonder jou wees nie.” Kotze het gehuil terwyl hy die briewe gelees het. Hy het Bonnette “Bokka” genoem en gevra waarom sy kon toelaat dat Conrad tussen hulle kom. “Hy was ‘n sagte terroris.” Hy het ook radioberigte oor haar verkragting ontken. Hy beweer daar was te veel spanning. “Slegs twee van die verdagtes het probeer. Die derde een het nie.”

Hy het haar ook ‘n volle herstel toegewens nadat hy van haar hospitalisering te hore gekom het.

‘n Onskuldige pleit is namens Kotze ingedien nadat hy geweier het om te pleit, en beweer dat sy aanspreeklikheid en vermoë om die hofverrigtinge te volg en ‘n bydrae te lewer word bevraagteken. Sy drie medebeskuldigdes het almal onskuldig gepleit. Hulle beweer Kotze het hulle gedwing om aan die aanval deel te neem en sê hulle het slegs gemaak of hulle Bonnette verkrag.

Bonnette het getuig hoe Kotze haar met verskeie voorwerpe gemartel het voordat hy die ander drie opdrag gegee het om haar te verkrag. Sy sê sy het gehoor hoe haar seun om sy lewe smeek voordat hy in die kop en hart geskiet is.

Die saak is tot Woensdag om 09:00 uitgestel om die verdedigingspan en die staat die kans te gun om te konsulteer.

Lees ook:
“Modimolle-monster” vandag dalk in getuiebank
“Modimolle-monster” glo ‘onbevoeg’; dokter getuig
“Modimolle-monster” weer in hof
Man afgedank ná hy “Modimolle-monster” op Facebook ‘loof’
Modimolle-monster: Saak uitgestel
‘Modimolle-monster’: Kotze se brief opgespoor
Modimolle-monster: “Geen tekens van verkragting”
Modimolle-monster: ‘Martelinstrument’ het haar ook bevry
‘Modimolle-monster’ se vriend, dogter getuig
Verdere getuienis in ‘Modimolle-monster’-saak
“Hulle kon haar nie verkrag het nie”
‘Modimolle-monster’ erken hy het seun geskiet
‘Modimolle-monster’: “Dit is nie in my aard om iemand seer te maak nie
‘Modimolle-monster’: “Ek het Ina probeer beskerm”
‘Modimolle-monster’ het glo oor kanker gejok
‘Modimolle-monster’: Ek het jou lief daarom martel ek jou
“Hy het my kind vrek geskiet”
‘Modimolle-monster’: Vermoorde seun se vriend getuig
‘Modimolle-monster’ weier om te pleit
‘Modimolle-monster’: Ina sal moontlik eerste getuig
‘Modimolle-monster’: Verhoor begin
‘Modimolle-monster’ geskuif ná selmaats kla
‘Modimolle-monster’ geskik vir verhoor
‘Modimolle-monster’ weer agter tralies
‘Modimolle-monster’ bly langer in Weskoppies
‘Modimolle-monster’: Saak uitgestel, alle name nou bekendgemaak
‘Modimolle-monster’: Nog twee verdagtes verskyn in hof 
‘Modimolle-monster’: Vierde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Derde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Vervreemde vrou vertel
‘Modimolle-monster’: “Ek wou haar net klein bietjie seermaak”
‘Modimolle-monster’: Hoe hy vasgetrek is
‘Modimolle-monster’ uiteindelik gevang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.