‘Modimolle-monster’: Kotze onder kruisverhoor

Johan Kotze en sy medebeskuldigdes (van links) Andries Sithole, Frans Mphaka en Pieta Mohlane Foto: Werner Beukes/SAPA

Waarskuwing: Die getuienis is soms eksplisiet en kan sensitiewe lesers ontstel.

Johan Kotze, die sogenaamde ‘Modimolle-monster’ het Woensdag aan die Pretoriase hooggeregshof gesê hy het nie gesien hoe sy drie medebeskuldigdes sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, verkrag nie.

Prokureur Jan van Rooyen, vir Andries Sithole, een van die medebeskuldigdes, het Kotze gevra of hy gesien het hoe Sithole, Piet Mohlane en Frans Mphaka vir Bonnette op 3 Januarie 2012 verkrag. “Dit is wat ek ervaar het. Ek het niks gesien nie,” het Kotze gesê.

Van Rooyen het gevra of Kotze gesien het of enige van sy medebeskuldigdes Bonnette met enigiets penetreer. “Ek het niks gesien nie,” het hy geantwoord.

Bonnette en Kotze se dogter, Jo-Marie Kotze, was Woensdag albei in die hof.

Van Rooyen het gevra of enige van die mans enigiets vir hom of Bonnette gevra of iets van hulle versoek het. “Nee, hulle het net vir kos gevra,” het hy gesê en bygevoeg dat hy nie namens Bonnette kan kommentaar lewer nie. Kotze ontken dat hy aan Bonnette gesê het sy sal weet hoe dit voel as drie swart mans haar verkrag het.

Hy ontken dat hy aan Sithole gesê het om bo-op Bonnette te klim en later gesê het, “Dis nou genoeg, klim af.” “Nee, u edelagbare, dit is nie die waarheid nie,” het hy aan die hof gesê.

Van Rooyen het dit verder aan Kotze gestel dat hy die drie medebeskuldigdes gedreig het en aangesê het om Bonnette te verkrag. “Jy was aggressief. Jy het gesê ‘julle sal maak soos ek sê’,” het Van Rooyen gesê. “U edelagbare, ek het dit nie gesê nie,” het Kotze geantwoord.

Volgens Van Rooyen het Kotze Sithole, Mohlane en Mphaka aangesê om in die kamer, waar Bonnette aangeval is, weg te kruip. Hy sê Sithole het geglo die dreigemente was werklik. “Ek het nie iets by my gehad nie. Ek het nie ʼn wapen gehad nie,” het Kotze gesê, en gevra hoe kon hy hulle gedreig het. Van Rooyen sê Kotze het toe die mans aangesê om Bonnette op die bed vas te druk. Kotze ontken dit. Van Rooyen sê Sithole het slegs verkragting simuleer.

Volgens Van Rooyen het Kotze glo verder aan Sithole gesê, toe hy nie ʼn ereksie kon kry nie, “Dis nogal snaaks. As jy verkrag is jy goed daarmee, maar wanneer dit vir jou gereël word, dan kan jy niks doen nie.” Toe die ander medebeskuldigdes glo ook nie ereksies kon kry nie, het Kotze hulle glo uitgejaag. “U edelagbare, dit is nie die waarheid nie,” het Kotze gesê.

Volgens Van Rooyen ondersteun sy kliënt Bonnette se getuienis. “Dit is nie waar nie,” het Kotze herhaal.

Francois van As, prokureur vir Mohlane en Mphaka, het Kotze uitgevra oor kommentaar wat hy in ʼn brief oor Conrad geskryf het. “Hy was ʼn goeie seun,” het Kotze geantwoord. Kotze het in die brief gereeld na Conrad verwys en Bonnette afgevra waarom sy kon toelaat dat die seun tussen hulle kon kom. “Hoekom het jy toegelaat dat Conrad ons lewens beheer,” het hy geskryf.

Van As het Dinsdag die brief as getuienis aan die hof voorgehou. Hy het Kotze Woensdag versoek om gedeeltes van die brief voor te lees. Hy het Kotze gevra waarom hy na Conrad as ʼn “sagte terroris” verwys het. Hy sê dit lyk of daar ʼn probleem was tussen hom en Conrad. “Ek was nie by my volle positiewe toe ek dit geskryf het nie,” het Kotze gesê. “Hy was ʼn goeie seun.”

Kotze sê nadat hy en Bonnette in 2009 begin uitgaan het, was Conrad ʼn moeilike kind, wat aan ʼn eetversteuring gely het en gereeld verdwyn het nadat hy en sy ma stry gekry het. “Ek wou hom help. Ek het hom bemoedig.”

Van As het Kotze ook oor sy getuienis oor die skietery uitgevra. Kotze het Dinsdag aan die hof gesê dat hy nie na Conrad toe gemik het nie, maar dat die vuurwapen net ‘afgegaan’ het. “Ek het geen bedoeling gehad om Conrad daardie middag dood te maak nie,” het Kotze gesê. Van As het aan die hof gesê twee patroondoppies is op die vloer opgespoor, en een in die vuurwapen self en dat Bonnette getuig het dat sy drie skote gehoor het. Volgens Van As moet die vuurwapen ná elke skoot herlaai word, wat Kotze bevestig het. Van As sê Kotze moes die vuurwapen ʼn paar keer herlaai het. “Ek kan dit nie onthou nie,” het Kotze gesê.

“U edelagbare, ek het net een skoot gehoor… Ek kan nie die gebeure rondom die voorval onthou nie. Ek weet ek het nie na hom toe gemik nie.” Van As sê Conrad is twee keer geskiet. Een keer in die kop en een keer in die knie. “Dit lyk nie of jy daardie dag baie gemis het nie,” het hy aan Kotze gesê.

Volgens Van As dui die brief en Kotze se emosionele toestand daarop dat hy bedoel het om Conrad te skiet. “U edelagbare, dit is nie die waarheid nie,” het Kotze gesê. Hy sê hy het Conrad gehelp en dat hulle ʼn gelukkige gesin was. “Ek was goed vir hom en het hom in sy studies aangemoedig. Dit is heeltemal onwaar.”

Volgens Van As se twee kliënte het Sithole en Kotze die aanval op Bonnette beplan.

Regdeur Kotze se getuienis het Bonnette haar kop geskud en gefrons.

Net voor Kotze die hof Woensdag verlaat het, het sy dogter Jo-Marie hom omhels. Sy het gehuis toe hulle omhels en gesoen het.

Kotze word daarvan beskuldig dat hy die groepverkragting van Bonnette op 3 Januarie in sy huurhuis in Modimolle gereël en haar seun, Conrad (19) daarna doodgeskiet het.

Sithole, Mohlane en Mphaka word van die ontvoering, aanranding, herhaaldelike verkragting en poging tot moord op Bonnette aangekla.

Bonnette het vroeër getuig dat Kotze haar met verskeie voorwerpe gemartel het voordat hy die drie mans aangesê het om haar te verkrag. Sy het aan die hof gesê sy moes luister hoe haar seun om sy lewe pleit voordat hy geskiet is.

Die saak duur voort.

Lees ook:
Modimolle-monster vandag onder kruisverhoor
“Modimolle-monster” vandag dalk in getuiebank
“Modimolle-monster” glo ‘onbevoeg’; dokter getuig
“Modimolle-monster” weer in hof
Man afgedank ná hy “Modimolle-monster” op Facebook ‘loof’
Modimolle-monster: Saak uitgestel
‘Modimolle-monster’: Kotze se brief opgespoor
Modimolle-monster: “Geen tekens van verkragting”
Modimolle-monster: ‘Martelinstrument’ het haar ook bevry
‘Modimolle-monster’ se vriend, dogter getuig
Verdere getuienis in ‘Modimolle-monster’-saak
“Hulle kon haar nie verkrag het nie”
‘Modimolle-monster’ erken hy het seun geskiet
‘Modimolle-monster’: “Dit is nie in my aard om iemand seer te maak nie
‘Modimolle-monster’: “Ek het Ina probeer beskerm”
‘Modimolle-monster’ het glo oor kanker gejok
‘Modimolle-monster’: Ek het jou lief daarom martel ek jou
“Hy het my kind vrek geskiet”
‘Modimolle-monster’: Vermoorde seun se vriend getuig
‘Modimolle-monster’ weier om te pleit
‘Modimolle-monster’: Ina sal moontlik eerste getuig
‘Modimolle-monster’: Verhoor begin
‘Modimolle-monster’ geskuif ná selmaats kla
‘Modimolle-monster’ geskik vir verhoor
‘Modimolle-monster’ weer agter tralies
‘Modimolle-monster’ bly langer in Weskoppies
‘Modimolle-monster’: Saak uitgestel, alle name nou bekendgemaak
‘Modimolle-monster’: Nog twee verdagtes verskyn in hof 
‘Modimolle-monster’: Vierde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Derde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Vervreemde vrou vertel
‘Modimolle-monster’: “Ek wou haar net klein bietjie seermaak”
‘Modimolle-monster’: Hoe hy vasgetrek is
‘Modimolle-monster’ uiteindelik gevang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.