Modimolle-monster: ‘Martelinstrument’ het haar ook bevry

Johan Kotze Foto: thenewage.co.za

‘n Gereedskapstuk wat gebruik is om Ina Bonnette mee te martel, is later gebruik om haar te bevry, het die Pretoriase hooggeregshof Woensdag gehoor.

Vivienne van der Merwe het Woensdag in die saak teen Johan Kotze, die sogenaamde Modimolle-monster, en sy drie medebeskuldigdes, Andries Sithole, Pieta Mohlanhe en Frans Mphaka getuig. Die vier mans word van die moord op Conrad Bonnette beskuldig en op die ontvoering, herhaaldelike verkragting, aanranding en poging tot moord op Ina Bonnette.

Van der Merwe sê sy het laatmiddag op 3 Januarie na Johan Kotze se huis toe gegaan op versoek van haar man, Dirk. Dirk het haar glo gevra om te gaan kyk wat by Kotze se huis aangaan, nadat Kotze hom tydens ‘n telefoonoproep gesê het dat hy uitstedig gaan wees en dat Van der Merwe hom nie weer sou sien nie. Kotze het die huis in Modimolle by die Van der Merwes gehuur.

Van der Merwe het Marthinus Cloete, Conrad se universiteitsvriend, by die huis aangetref. Sy het nie vermoed iets is verkeerd totdat Cloete gesê het hy het beweging in een van die kamers opgemerk nie. Hulle het ingegaan en op Ina afgekom waar sy aan die venster en die bed vasgemaak is. Daar was bloed op haar tepels en merke op beide haar borste. Van der Merwe het ‘n hoeksnyer (side-cutter) op die bedtafeltjie gebruik om Bonnette te bevry. Bonnette het vir haar gesê drie mans het haar verkrag. Bonnette het vroeër getuig Kotze het die hoeksnyer gebruik om een van haar tepels af te sny en ‘n klein sagie om haar ander tepel tydens ‘n uitgerekte martelsessie te verwyder.

Kotze het sy drie medebeskuldigdes aangesê om haar te verkrag.

Bonnette het aan die hof gesê dat sy gehoor het hoe haar seun Conrad om sy lewe pleit voordat Kotze hom glo doodgeskiet het.

Van der Merwe het getuig sy het uit die huis gehardloop, haar man gebel en hom gevra om die polisie te ontbied omdat iets vreeslik gebeur het.

Intussen het Bonnette en Cloete Conrad se liggaam in ‘n ander kamer gekry. Bonnette het aan Van der Merwe gesê dat haar seun geskiet is en daarop aangedring dat hulle so gou as moontlik by die polisie moet uitkom, omdat Kotze oppad was na haar ouers toe.

Van der Merwe het die hof oor ‘n argument ingelig wat die vorige dag tydens aandete plaasgevind het. Sy het vir Kotze gesê hy moet sy probleme met Bonnette uitsorteer, aangesien sy vriende moeg is om daarvan te hoor. Sy was dus nie verras om Bonnette se motor die volgende middag buite Kotze se huis te sien staan nie, aangesien Kotze vir haar gesê het dat hulle gaan ontmoet om ‘n ooreenkoms te bereik.

Kaptein Francois Möller, selfoonkenner van die polisie, het getuig dat Kotze en Sithole mekaar op talle geleenthede tussen 20 Desember 2011 en 3 Januarie 2012 gekontak het. Kotze het Sithole 40 keer tydens dié periode geskakel en Sithole het Kotze agt keer tussen 25 Desember 2011 en 3 Januarie geskakel het, en hom ‘n verdere 36 keer probeer skakel het.

Sithole het Mohlane 10 keer op 3 Januarie geskakel en twee keer op 5 Januarie.
Kotze het Sithole vir die eerste keer net voor 05:00 op 3 Januarie geskake. Sithole se selfoonrekords dui aan dat hy 26 keer probeer het om Kotze op 3 Januarie tussen 16:00 en 21:00 probeer skakel het, maar dat Kotze se foon afgeskakel was.

Kotze het Bonnette ook met selfoonoproepe en teksboodskappe tussen 1 November 2011 en 3 Januarie 2012 geteister. Hy het haar 154 keer geskakel en 184 SMSe gestuur. Bonnette het Kotze tydens dieselfde periode 12 keer geskakel en 63 SMSe gestuur. Kotze se rekords toon ook dat hy haar die aand ná die voorval probeer skakel het, terwyl hy nog van die polisie gevlug het.

Die saak duur voort.

Lees ook:
‘Modimolle-monster’ se vriend, dogter getuig
Verdere getuienis in ‘Modimolle-monster’-saak
“Hulle kon haar nie verkrag het nie”
‘Modimolle-monster’ erken hy het seun geskiet
‘Modimolle-monster’: “Dit is nie in my aard om iemand seer te maak nie
‘Modimolle-monster’: “Ek het Ina probeer beskerm”
‘Modimolle-monster’ het glo oor kanker gejok
‘Modimolle-monster’: Ek het jou lief daarom martel ek jou
“Hy het my kind vrek geskiet”
‘Modimolle-monster’: Vermoorde seun se vriend getuig
‘Modimolle-monster’ weier om te pleit
‘Modimolle-monster’: Ina sal moontlik eerste getuig
‘Modimolle-monster’: Verhoor begin
‘Modimolle-monster’ geskuif ná selmaats kla
‘Modimolle-monster’ geskik vir verhoor
‘Modimolle-monster’ weer agter tralies
‘Modimolle-monster’ bly langer in Weskoppies
‘Modimolle-monster’: Saak uitgestel, alle name nou bekendgemaak
‘Modimolle-monster’: Nog twee verdagtes verskyn in hof
‘Modimolle-monster’: Vierde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Derde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Vervreemde vrou vertel
‘Modimolle-monster’: “Ek wou haar net klein bietjie seermaak”
‘Modimolle-monster’: Hoe hy vasgetrek is
‘Modimolle-monster’ uiteindelik gevang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.