Mmapuru Peter Mohlako, 34, en Andries Paparona Sithole, 42, het in die landdroshof in Modimolle verskyn en die saak is tot 10 Februarie uitgestel, het lt.kol. Ronel Otto gesê. Mohlako en Sithole sal op 10 Februarie saam met hul medebeskuldigdes, Frans Mphaka, 38, en Johan Kotze, 50, in die hof verskyn. Al vier word in aanhouding gehou tot die verhoordatum. Kotze het glo die drie mans met ʼn geweer gedwing om op 3 Januarie in sy huis in Modimolle sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, beurtelings te verkrag en haar liggaam te skend. Kotze het glo ook Bonnette se 19-jarige seun, Conrad, doodgeskiet.
Bonnette het vroeër haar reg om as verkragtingslagoffer anoniem te bly, laat vaar, sodat Kotze se naam en foto in die media kan sirkuleer. ʼn Lid van die publiek het Kotze Woensdag in Modimolle opgemerk en dit het tot sy inhegtenisname gelei. Die ander drie verdagtes is almal in Makapanstad, Hammanskraal, aangekeer. Mphaka is Woensdag in hegtenis geneem, terwyl Mohlako en Sithole onderskeidelik Vrydag en Saterdag vasgetrek is. Kotze en Mphaka het Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn, op dieselfde dag as Conrad Bonnette se begrafnis.