‘Modimolle-monster’ se vriend, dogter getuig

Johan Kotze Foto: thenewage.co.za

Johan Kotze, die sogenaamde Modimolle-monster, blameer glo sy vrou vir sy dade, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag gehoor.

Kotze se vriend, Dirk van der Merwe, het getuig dat Kotze hom op 3 Januarie 2012 geskakel het nadat hy glo sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, gemartel het, haar deur drie mans laat verkrag het en haar seun doodgeskiet het. “Hy het gehuil en gesê hy wil nie meer leef nie. Hy het gesê ek sal hom nie weer sien nie, en dat ek nie vir hom moet soek nie,” het Van der Merwe gesê.

Kotze het hom weer die aand ná die voorval gekontak. Toe Van der Merwe hom vra, “wat de hel het jy aangevang?” het Kotze gesê dit is alles Ina se skuld. Kotze sê hy het twee keer probeer selfmoord pleeg, maar kon dit nie regkry nie.

Van der Merwe het Kotze gemaan om homself aan die polisie oor te gee en het selfs aangebied om saam met hom te gaan, maar Kotze het gesê hy het eers ‘n paar take wat hy moet afhandel voordat hy na die polisie toe kan gaan. Sowat ‘n week later het ‘n moeë Kotze by sy werkplek opgedaag en “net daar gestaan”. “Ek het net gesê, ‘O Johan, o Johan’, en hom aangesê om te sit. Hy het gesê hy wou met my praat, maar ek het vir hom gesê daar is nie tyd nie. Ek het die polisie gebel en hy is in hegtenis geneem,” het Van der Merwe getuig.

Kotze, Andries Sithole, Pieta Mothlane en Frans Mphaka word van die moord op Kotze se stiefseun, Conrad Bonnette, beskuldig en van die ontvoering, herhaaldelike verkragting, aanranding en poging tot moord op Ina.

Van der Merwe het getuig dat hy en Kotze die oggend van 3 Januarie by Kotze se huis koffie gedrink het. Kotze het vir hom gesê hy is moeg en dat hy na Ina gekyk het, en nie hou van dit wat hy sien nie. Hy het gesê hy het sake in Hammanskraal daardie dag en dat hy ook sy dogter in Pretoria moes gaan haal.

“Net ná 11:00 het Kotze gebel en gesê hy en Ina het ‘n afspraak vir later daardie middag en dat hulle dinge gaan probeer uitpraat,” het Van der Merwe gesê. Kotze het Van der Merwe herhaaldelik gewaarsku om nie na sy huis toe te kom nie, omdat hy glo “alleen tyd” saam met Ina benodig het.

Kotze het hom ‘n rukkie later weer gebel om reëlings te tref om palmbome voor in sy erf te verwyder en het vir Van der Merwe gesê hy het drie mans in die straat aangekeer wat hom sou help. Twee van die mans het saam met Van der Merwe gegaan om die palms weer te gaan plant, maar Kotze het daarop aangedring dat die een, Andries, by hom moet bly en het herhaaldelik aan Van der Merwe gesê dat hy die ander twee mans weer na sy huis toe moet terugbring.

Hulle het nie gepraat toe Van der Merwe die twee mans weer by Kotze se huis afgelaai het nie, maar Kotze het hom omstreeks 13:45 gebel en gesê hy moet nie na die huis toe kom nie. “Hy het nie anders geklink nie, maar hy het gehuil toe hy my weer ná ‘n paar uur gebel het en gesê het hy wil nie meer leef nie,” het Van der Merwe bygevoeg.
Van der Merwe het die hof ook van ‘n voorval vertel wat die vorige Kersfees gebeur het toe Kotze ‘n vrou genaamd Lizette saam hom met vakansie geneem het. Die twee se verhouding het egter versuur nadat Kotze haar met ‘n roeispaan geslaan het toe hulle geroei het. Die vrou het aan Kotze gesê dit is die laaste keer dat hy haar sou slaan en het haarself van hom distansieer.

Kotze se 18-jarige dogter uit ‘n vorige huwelik, Jo-Marie Kotze, het getuig dat sy Kersfees saam met haar pa spandeer het en ‘n reëling gehad het om hom weer op 3 Januarie te sien.
Hy het haar ‘n paar keer gebel om seker te maak dit gaan goed en haar weer omstreeks 16:00 geskakel. “Hy het gesê hy het tannie Ina saam met ‘n ander man gesien. Hy het haar baie lief gehad, en was baie teleurgesteld en kon nie glo dat sy [Ina] so iets aan hom kon doen nie,” het Jo-Marie gesê. Sy het onthou dat sy haar pa aangeraai het om die verhouding met Ina te verbreek sodat hulle met hul lewens kan aangaan. “Hy het normaal geklink en gereël dat ek by sy vriend se huis vir hom sou wag.”

Sy was nie bekommerd oor haar pa nie, en het nooit vermoed dat iets in daardie stadium fout was nie. Sy het eers weer op die dag van sy inhegtenisneming weer met hom gepraat, toe hy vir haar gesê het sy moet haar matriekjaar geniet en haar meubels en motorfiets by sy huis moet kom haal.

Jo-Marie sê Kotze het altyd probeer om haar te beskerm en het haar nooit regtig gewys wat hy waarlik voel nie, alhoewel hy gesê het dat dit nie met Ina goed gaan nie. “Dit het altyd gelyk of hy gelukkig is en hy het altyd geglimlag wanneer hy my sien.”

Kotze se dogter het begin huil terwyl sy getuig het, en toe sy haar pa ‘n drukkie gegee het nadat sy teen hom getuig het. Die hofordonnans het aanvanklik geweier dat sy haar pa nader, maar het haar later toegelaat om ‘n paar minute lank met hom te praat. Kotze het sy dogter getroos terwyl sy in sy arms staan en huil het.

Die saak duur voort.

Lees ook:
Verdere getuienis in ‘Modimolle-monster’-saak
“Hulle kon haar nie verkrag het nie”
‘Modimolle-monster’ erken hy het seun geskiet
‘Modimolle-monster’: “Dit is nie in my aard om iemand seer te maak nie
‘Modimolle-monster’: “Ek het Ina probeer beskerm”
‘Modimolle-monster’ het glo oor kanker gejok
‘Modimolle-monster’: Ek het jou lief daarom martel ek jou
“Hy het my kind vrek geskiet”
‘Modimolle-monster’: Vermoorde seun se vriend getuig
‘Modimolle-monster’ weier om te pleit
‘Modimolle-monster’: Ina sal moontlik eerste getuig
‘Modimolle-monster’: Verhoor begin
‘Modimolle-monster’ geskuif ná selmaats kla
‘Modimolle-monster’ geskik vir verhoor
‘Modimolle-monster’ weer agter tralies
‘Modimolle-monster’ bly langer in Weskoppies
‘Modimolle-monster’: Saak uitgestel, alle name nou bekendgemaak
‘Modimolle-monster’: Nog twee verdagtes verskyn in hof
‘Modimolle-monster’: Vierde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Derde verdagte vas
‘Modimolle-monster’: Vervreemde vrou vertel
‘Modimolle-monster’: “Ek wou haar net klein bietjie seermaak”
‘Modimolle-monster’: Hoe hy vasgetrek is
‘Modimolle-monster’ uiteindelik gevang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.