“Modimolle-monster”: vervreemde vrou vertel

Johan Kotze, die "Modimolle-monster". Foto: @ewnreporter

Johan Kotze (50), die sogenaamde “Modimolle-monster” word daarvan aangekla dat hy op 3 Januarie drie mans met ʼn geweer gedwing het om sy vervreemde vrou om die beurt te verkrag en sy stiefseun doodgeskiet. Sy vervreemde vrou het ʼn eksklusiewe onderhoud met Die Pos-koerant in Limpopo gehad. Die Pos het toestemming aan Maroela Media verleen om gedeeltes van die artikel te publiseer, maar, om haar privaatheid te beskerm, versoek dat ons nie die vrou se naam bekend moet maak nie. Hier volg gedeeltes uit die artikel:

“Ek is deur twee en ’n half uur van onbeskryflike pyn, maar niks sal ooit kan vergelyk met die pyn waardeur ek is toe ek my kind se angskrete gehoor het terwyl hy drie keer geskiet is nie.”

Die vrou was vasgebind op ’n bed in ’n ander vertrek in die huis waar sy na bewering verkrag en grusaam aangerand is. Haar aanvallers het ook haar mond toegeplak sodat sy nie kon praat nie.

Die vrou is Maandag, 9 Januarie, uit die hospitaal ontslaan en onmiddellik na ’n plek van veilige bewaring geneem waar sy 24 uur per dag deur die polisie bewaak is. Sy het aan Die Pos gesê sy gaan Vrydag, 13 Januarie haar seun se begrafnis bywoon.

“Die wonde is besig om te genees maar dit sal tyd vat,” het sy gesê. “Ek wil net vir die hele gemeenskap baie dankie sê — ons waardeer hul bystand en omgee so baie. Ek is deur geweldige pyn — die foltering het twee en ’n half uur lank aangegaan. Soveel pyn… ek dink ’n mens kan die trauma van erge pyn oorleef, maar ek weet nie of ’n mens ooit kan herstel van die pyn wanneer jy hoor hoe jou kind pleit om sy lewe en dan doodgeskiet word nie.

“My liggaam is deur soveel skokke. Die werklikheid van wat ek deur is, het nog steeds eintlik nie tot my deurgedring nie. Ek voel met tye baie bewoë. In die twee en ’n half uur wat ek gefolter is, was die pyn so intens. Ek het met tye afgeskakel, maar dan was daar tye wat ek eintlik gehoop het sy vinger gly op die vuurwapensneller.

“Ek het net die heeltyd gebid. Aanhoudend.

“Ek is verstom en baie aangedaan oor die gemeenskap se liefde en omgee. Ek het voor hierdie tragedie deur ’n tyd gegaan waarin ek soms gevoel het die gemeenskap hou nie van my nie, maar nou weet ek anders. Die liefde van die mense in ons gemeenskap is die waarheid waarmee ek nou saamleef.”

Die 19-jarige seun word vandag om elfuur uit die Hervormde Kerk op Bela-Bela begrawe. Die diens word waargeneem deur dr. Barry van Wyk van Modimolle.

Klik hier om die volledige berig op Die Pos-koerant se webwerf te lees waar ‘n duidelike foto van die beweerde aanvaller ook beskikbaar is.

Klik hier om te lees hoe Johan Kotze op 11 Januarie vasgetrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.