“Modimolle-monster” weer in hof

Johan Kotze tydens sy verhoor op 26 November. Foto: Werner Beukes / Sapa

Johan Kotze, wat ook as die “Modimolle-monster” bekend staan, se verhoor het Maandag in die Noord Gautengse hooggeregshof in Pretoria hervat. Dit is nou byna meer as ‘n jaar na die wrede aanval op sy eksvrou, Ina Bonnette, en moord op sy stiefseun, Conrad.

Kotze word daarvan beskuldig dat hy drie mans, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Sello Mphaka, gehuur het om Bonnette op 3 Januarie te martel en verkrag. Hy word ook beskuldig dat hy Conrad doodgeskiet het.

Die vier verdagtes was egter net vir ʼn kort rukkie in die hof, waarna die saak vir twee maande uitgestel is omdat Kotze se regsverteenwoordiger ook by die Boeremag-verhoor betrokke is.

Kotze se verhoor is op 30 November tot vandag uitgestel, omdat die staat se laaste twee getuies nie beskikbaar was nie. ʼn Dokter wat in seksuele geweldsake spesialiseer, moet nog haar getuienis afhandel. Die staat sal ook die spesialis wat Bonnette ná die aanval behandel het, as getuie roep. Kotze was ook die afgelope tyd vir meer sielkundige toetse in Bloemfontein.

Al vier mans staan tereg op aanklagte van ontvoering, verkragting, aanranding en poging tot moord. Hulle het verlede jaar onskuldig gepleit.

Sien ook:

‘Modimolle-monster’: Saak uitgestel

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.