Modimolle-monster weier om te pleit

Johan Kotze het Maandag geweier om te pleit tydens sy verhoor in die hooggeregshof.

Johan Kotze, die sogenaamde Modimolle-monster, het Maandag geweier om te pleit op die aanklagte teen hom nadat ʼn regter van die hooggeregshof in Pretoria sy aansoek om uitstel geweier het.

In reaksie hierop het regter Bert Bam namens Kotze ʼn onskuldige pleit laat aanteken op die sewe aanklagte teen hom, wat wissel van moord en poging tot moord tot verkragting.

Kotze se drie medebeskuldigdes, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka, het almal onskuldig gepleit op dieselfde aanklagte. Hulle het al drie aangevoer dat Kotze hulle gedwing het om aan die misdade deel te neem.
Die staat voer aan dat die vier in Januarie vanjaar die 19-jarige Conrad Bonette vermoor het, waarna hulle Ina Bonette, Kotze se vervreemde vrou, ontvoer, verkrag en seksueel aangerand het en haar probeer vermoor het. Conrad was Bonette se seun uit ʼn vorige huwelik.

Volgens die staat het Kotze beplan om sy vrou te verneder en haar skade te berokken deur haar te ontvoer, te martel en te verkrag, haar seun te vermoor, en haar te laat verkrag deur sy drie medebeskuldigdes. Kotze het na bewering vooraf reeds die vertrek en toerusting vir die ontvoering en marteling gereed gekry, ʼn vuurwapen en handdoek byderhand gehou, en verseker dat sy drie medebeskuldigdes nie herken sal kan word nie deur hulle sykouse oor hul koppe te laat trek. Die drie het ook skynbaar reeds in die voorbereide vertrek weggekruip toe Bonette daar aankom.

Met haar aankoms is sy oorval en met ʼn handdoek gesmoor. Sy is op die bed neergegooi, gewurg en aan die bed en diefwering vasgebind. Hierna is sy seksueel aangerand en ernstig gemartel, tot sy byna aan haar beserings beswyk het.
Kotze het na bewering haar foon gebruik om haar seun na die huis te lok, en hy het haar motorsleutels geneem om seker te maak sy kan nie ontsnap nie. Toe Conrad die huis binnekom, het Kotze hom met ʼn .22-geweer doodgeskiet. Die jong student is op die toneel dood aan die beserings aan sy mond en bors.

Kotze se advokaat, Bernard Bantjes, het Maandag aansoek gedoen om uitstel vir verdere psigologiese en mediese toetse. Hy het aangevoer dat die uitslag daarvan ʼn invloed kan hê op Kotze se toerekeningsvatbaarheid vir sy beweerde misdade en sy vermoë om die verloop van die hofverrigtinge te begryp. Hy het aangevoer dat die verdediging kennis dra van minstens drie mediese toestande wat ʼn invloed op sy kliënt se psigologiese toestand kon hê, maar waarvoor toetse nog nie uitgevoer kon word nie. Bantjes het bygevoeg dat Kotze nie in staat is om te pleit nie, as gevolg van die onsekerheid oor sy toerekeningsvatbaarheid.

Die staat het beswaar aangeteken en ʼn verslag oorhandig van drie psigiaters wat dit eens is dat Kotze aan geen psigiatriese siektes ly nie, en dat hy in staat is om verhoor te word.

Bam het gesê Bantjes se aansoek is gebaseer op blote spekulasie en dat dit nie in die belang van reg en geregtigheid sal wees as die verhoor uitgestel word nie. Indien daar ʼn probleem met Kotze se toerekeningsvatbaarheid is, kan dit gedurende die verloop van die verhoor aangespreek word, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

louise ·

Hoe kan ‘n regdenkende prokureur so iemand verdedig? Hoe kan jy hom wil onskuldig verklaar, hoe kan jy dit goedpraat ……. hoe hoe hoe??????? Daardie prokureur wat homverdedig is self siek in sy kop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.