“Moenie dit sondebelasting noem nie”

Brandhouse-produkte

‘n Verspreider van alkoholprodukte het ‘n beroep op Pravin Gordhan, minister van finansies, en die nasionale tesourie gedoen om nie meer die begrip “sondebelasting” te gebruik nie.

Joe Heshu, van Brandhouse, het gesê hulle het reeds met tesourie vergader om eerder van “aksynsbelasting” te praat as “sondebelasting”. “Ons het die minister versoek om nie meer na sondebelasting te verwys nie, maar om die belasting op sy regte naam te noem, naamlik aksynsbelasting,” het Heshu aan Beeld gesê. “Die woord sondebelasting veroorsaak skade aan die handelsmerk van wetsgehoorsame maatskappye. Dit ondermyn ook die (belasting-)bydrae wat dié maatskappy aan die staat lewer.”

“Alhoewel alkohol in die land misbruik word, is dit onverantwoordelik om na alle gebruik as “sonde” te verwys,” het hy verder gesê.

Sondebelasting word gewoonlik gebruik wanneer daar na alkohol of tabakprodukte verwys word.

Gordhan sal na verwagting in Februarie sy begrotingstoespraak lewer.

Brandhouse Beverages is een van Suid-Afrika se grootste drankmaatskappye. Dit is ‘n gesamentlike onderneming tussen Diageo, Heineken International en Namibia Breweries.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.