Moenie Graca ondermyn nie, vra AbaThembu

Mandela en Graça Machel in Julie 2007 Foto: Werner Beukes/SAPA

Mandela en Graça Machel in Julie 2007 Foto: Werner Beukes/SAPA

Geen lid van die Mandela-familie mag oud-president Nelson Mandela se weduwee, Graca Machel, intimideer of te na kom nie, het die AbaThembu koninklike familie Dinsdag gesê.

“Hulle mag haar nie beledig of haar dreig om die Mandela-huise in Houghton of Qunu te verlaat nie,” het Daludumo Mtirara, woordvoerder van die koninklike familie, in ʼn verklaring gesê. “Die afsterwe van Mandela termineer nie sy toewyding aan haar nie.”

Daar was onlangs berigte dat familielede oor Mandela se boedel stry en dat hulle oorweeg om Machel uit die huis te sit wat sy en Mandela gedeel het. Machel en George Bizos SC, ʼn menseregteprokureur en nabye familievriend, se pogings om die familietwis tot ʼn einde te bring, was tevergeefs.

Die koninklike familie het die familielede veroordeel wat met minagting teenoor Machel optree, het Mtirara bygevoeg. Die familie is duidelik dat sy ʼn toegewyde vrou vir Mandela was. “Ons trek nie haar bydrae in die latere jare van dié wêreldikoon in twyfel nie,” het hy gesê.

“Nkosikazi Nosizwe Graca Machel bly die sambreel van die Mandela-familie en lede van die familie wat haar nie respekteer nie, moet die houding laat vaar, aangesien dit ʼn skande is wat ons gebruike ondermyn.”

Kort ná Mandela se afsterwe het sy eksvrou, Winnie Madikizela-Mandela berigte oor ʼn familietwis as “skelm insinuasies” en “apartheidstipe taktiek” veroordeel. Daar was ook berigte dat Mandela se oudste dogter, Makaziwe Mandela, die slotte by die huis in Qunu verander het en dat die kleinseun Mandla Mandela, uitgesluit is. Mandla en Makaziwe is in ʼn bitter stryd gewikkel oor die beheer van Mandela se nalatenskap en leierskap van die familie.

Mtirara het verlede week gesê Mandela het ses jaar gelede aan die Thembu-nasie aangekondig dat Mandla die hoof is van die familie en die tradisionele spies is aan hom oorhandig.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Die begrafnis was n Groot storie, maar hier kom nog n GROTER storie en warboel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.