“Moenie ophou staak nie,” sê Malema

Foto: Taurai Maduna, EWN

Julius Malema, voormalige president van die ANC-jeugliga, het polisie Saterdag versoek om hulleself van die betogers by Lonmin se Marikana-myn te distansieer.

Onderhandelings tussen Malema en die polisie het plaasgevind nadat Lonmin-werkers en inwoners gesê het hulle voel ongemaklik om met Malema te gesels terwyl die polisie daar was. Sowat drie pantservoertuie van die polisie het daar naby gestaan. Malema het Saterdag by Wonderkop opgedaag. Die inwoners en mynwerkers het Malema met ope arms ontvang. Sommige persone het hande geklap.

Een vrou het ‘n plakkaat omhoog gehou wat sê: “R500-beloning vir enigiemand wat die polisie doodmaak. Musina tot Kaapstad, doen jul bes.” Sy het verduidelik dat enigiemand van Musina in Limpopo tot Kaapstad in die Wes-Kaap ‘n R500-beloning sal ontvang wanneer hulle ‘n polisiebeampte vermoor.

Die vurige Malema het ter afsluiting die 3 000 rotsbooroperateurs aangemoedig om aan te hou staak totdat hul eise nagekom is.

Ten minste 44 mense is reeds dood sedert die gewelddadige aksie by die myn begin het. Meer as 78 mense is beseer. President Jacob Zuma het die gebied Vrydag besoek en die geweld veroordeel en ‘n ondersoek na die gebeure versoek.

Klik hier om foto’s van die betogers te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.