“Moenie rondloper seekoei skiet nie”

Argieffoto

Verskeie pogings om ‘n rondloper seekoei in Zeekoevlei, naby die Cape Flats, aan te keer, was tot dusver onsuksesvol.

Die twee-en-‘n-halfjarige kalf het uit Rondevlei na die Strandfontein-voëlpark gewandel en later na Zeekoevlei toe. Daar is verskeie huise op die grens van die gebied. Owerhede sou die dier verdoof het, gevang het en na sy nuwe tuiste by die Gondwana-wildreservaat naby Mosselbaai geneem het. Personeel van die wildreservaat het al verskeie kere probeer om die seekoei aan te keer, maar die dier wou nie weer sy kop uit die meer uitsteek nie. Die bewaarders het intussen teruggekeer na die reservaat toe.

“Verdere pogings om die dier aan te keer is Woensdagaand uitgevoer, maar die seekoei wou nie sy kop uitsteek nie,” het die stad Kaapstad in ‘n verklaring gesê. “Die veearts het dus nie geleentheid gehad om die seekoei te verdoof nie,” aldus die verklaring.

Die seekoei is al twee keer die week opgemerk.

Die stad sê sy biodiversiteitsbestuurpersoneel sal die dier dophou om sy patroon te bepaal.

“Sodra die dier ‘n vaste weidingspatroon het, kan ‘n gunstige oomblik bepaal word. Die personeel sal ook seker maak dat die dier beperkte kontak met mense het en dat hy veilig bly,” lui die verklaring.

Owerhede doen ‘n beroep op die publiek om van die dier af weg te bly en die beamptes toe te laat om hul werk te doen. “Moenie die dier probeer skiet nie. Geen standaardgeweer kan gebruik word om ‘n seekoei plat te trek nie. As jy ‘n seekoei wond, het jy ‘n baie gevaarlike situasie geskep. ‘n Gewonde seekoei mag jou bestorm en sal jou of onskuldige omstanders heel moontlik doodmaak.”

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.