Moet Mogoeng verskoning vra vir uitsprake oor Israel? Só sê kundiges

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: Flickr/GovernmentZA)

Hoofregter Mogoeng-Mogoeng loop tans kwaai onder kritiek deur nadat hy verlede week in ’n webinaar van die Israeliese koerant Jerusalem Post pro-Israeliese uitsprake gemaak het en ook gesê het die Bybel se gesag is hoër as dié van die Suid-Afrikaanse Grondwet. Mogoeng was deel van ’n paneel wat ook die Suid-Afrikaanse hoofrabbi, Warren Goldstein, ingesluit het.

In die gesprek het Mogoeng kritiek gelewer op die ANC-regering se eensydige benadering tot die stryd tussen Israel en die Palestyne. Hy het bloot gevra dat die verhouding met Israel moet normaliseer en dat Suid-Afrika ’n bydrae tot vrede tussen die twee partye kan lewer, sou die regering nie aanhou kant kies teen Israel nie.

“Ek, as Christen, kan niks anders doen as om Israel lief te hê en vir hom te bid nie omdat ek weet dat haat vir Israel deur my en my nasie slegs ongekende vervloeking op ons nasie teweeg sal bring,” het Mogoeng in die webinaar gesê. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika hom die wonderlike geleentheid ontneem om spel-wisselaar in die Israel-Palestynse situasie te word. Hy het ook gewaarsku dat Suid-Afrika weet wat dit is om met homself haaks te wees en om ’n nasie te wees wat in ’n oorlog met homself gewikkel is.

Verskeie organisasies het Mogoeng daarna aangeval en gekritiseer oor sy skynbaar politieke uitsprake. Die ANC, Africa4Palestine, die EFF en die Council for the Advancement of the South African Constitution (Casac) het hom skerp gekritiseer. Daar is ook wyd teen Mogoeng te velde getrek in talle meningstukke op verskeie mediaplatforms, terwyl ʼn Zapiro-spotprent wat in Daily Maverick gepubliseer is, die spot gedryf het met sy Bybelse sienings (wat deur die spotprent as “ancient myth” beskryf is) en waarin hy as “Chief Zionist Moegoe Moegoe” beskryf is. Talle organisasies en individue het daarop aangedring dat hy sy opmerkings terugtrek en Suid-Afrikaners om verskoning vra.

Maar was dit Mogoeng se reg en plek as hoofregter om aan dié gesprek deel te neem en sy standpunt te verdedig, en is hy regmatig in sy weiering om verskoning te vra vir sy standpunt?

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale betrekkinge van Solidariteit, was Mogoeng heeltemal geregverdig in sy deelname aan die gesprek.

“Hy neem gereeld aan sulke gesprekke oor plaaslike en internasionale sake deel en sy stem is ’n belangrike een. Solank hy nie uitsprake lewer oor sake wat voor die Grondwethof mag dien nie, behoort daar nie ’n probleem te wees nie.

“Hy het ook nie sy mandaat oorskry nie. Mogoeng se werk is om as hoofregter die Suid-Afrikaanse Grondwet korrek te interpreteer. As ’n regter en regskenner kan hy sekerlik sy invloed gebruik om standpunte oor plaaslike en internasionale kwessies te maak.

“Indien ’n mens mooi die volle inhoud van die webinaar bestudeer, het Mogoeng nie kant gekies vir Israel en teen die Palestyne nie. Hy het eerder kritiek gelewer op die Suid-Afrikaanse regering se harde benadering wat wel neerkom op kant kies. Die ANC-regering is bekend vir harde kritiek teen Israel en ’n blinde lojaliteit jeens die Palestyne. Mogoeng is heeltemal korrek dat die ANC se kantkiesery nie tot langtermyn-vrede tussen Israel en die Palestyne kan bydra nie,” het Kleynhans verduidelik.

Prof. Pierre de Vos, hoof van publieke reg aan die Universiteit Kaapstad, het gesê ’n beter manier om hierdie gebeure te beoordeel is om eerder te kyk na die beginsels wat regters lei as hulle openbare uitsprake maak, eerder as oor wat Mogoeng gesê het.

“Regters word nie verhinder om openbare uitsprake te maak nie of om as burgers aan die openbare lewe deel te neem nie. Hoewel regters nie dieselfde vryhede as gewone burgers het nie, behou hulle daardie regte wat versoenbaar is met die amp van ’n regter. Die lyn tussen toelaatbare en ontoelaatbare optrede is nie altyd so duidelik nie, maar daar is ’n lyn en regters word regtens verplig om aan die regte kant daarvan te bly,” het hy gesê.

Gevra of dit aanvaarbaar is vir regters om politieke uitsprake te lewer, het Kleynhans soos volg gereageer: “Ja, regters reg oor die wêreld doen dit daagliks. In die VSA neem regters van die hooggeregshof gereeld aan sulke gesprekke oor strydpunte deel en maak uitsprake en steeds het die hof in die VSA ’n baie hoë vlak van geloofwaardigheid. Die uitdaging is om te voorkom dat sulke uitsprake met sake wat voor die hof aangehoor word, vermeng word.

“Die ANC se reaksie om te eis dat Mogoeng om verskoning vra, is bloot politiekery. Die ANC se historiese bande met die Palestyne en selfs terreurgroepe in die Midde-Ooste is kommerwekkend en die ANC verloor toenemend sy vermoë om relevante kommentaar op huidige globale uitdagings te lewer. Dit veroorsaak dat Suid-Afrika se invloed in die res van die wêreld bly afneem.

“Dit is heeltemal sy reg om nie verskoning te vra nie. Hy het niks om voor verskoning te vra nie en het ook geen reël oortree nie,” was Kleynhans se reaksie.

De Vos het daarop gewys dat die optrede van regslui, en regters is daarby ingesluit, deur die kode van geregtelike gesag ingevolge art 12 van die Wet op die Regterlike Dienskommissie, bepaal word. In terme van art 14(4)(b) van die wet kan enigiemand ’n klag lê teen ’n regter vir doelgerigte of grootliks nalatige verbreking van enige voorsiening wat in die wet gemaak word. Die doel van die kode is om die onafhanklikheid en integriteit van die regbank en die gesag van die howe te beskerm.

“As ’n mens dus die geldigheid van die kritiek op Mogoeng se pro-Israeliese uitlating oorweeg, is die beginselvraag nie of iemand die Palestynse saak of die staat Israel ondersteun nie. Die vraag is ook nie of die regter wat die uitlating gemaak het, Moslem, ’n Christen of ’n ateïs is nie. ’n Mens moet egter twee vrae vra: Eerstens, het die verklaring die hoofregter betrek by politieke kontroversie? En tweedens, is die verklaring gemaak oor ’n onderwerp wat nie verband hou met die regsonderwerpe, die regbank en die administrasie van die reg nie? Ongelukkig kan die antwoorde op beide vrae ‘ja’ wees,” het De Vos verduidelik.

Kleynhans glo ook nie dat Mogoeng se uitsprake tydens die webinaar Suid-Afrika se stand in die internasionale gemeenskap, en veral met die Israel-Palestynse kwessie in gedrang gebring het nie. Hy meen dit wys eerder juis dat die ANC se standpunt nie die hele Suid-Afrika se standpunt is nie. Dit maak ander stemme uit Suid-Afrika oor die kwessie relevant.

Kleynhans het ook Mogoeng se erkenning dat die Bybel as ’n groter gesag as die Suid-Afrikaanse Grondwet gesien kan word, bevestig.

“Mogoeng is nog altyd ’n uitgesproke Christen. Dit was welbekend nog voordat hy as regter in die konstitusionele hof en as hoofregter aangewys is. Mogoeng het die volste reg om te erken dat sy regspraak deur die Bybel gelei word. Daardeur verduidelik hy bloot sy denke en wat dit beïnvloed soos wat enige ander regter ook kan doen,” het Kleynhans gesê.

De Vos het gesê groot voordeel kan getrek word uit regters wat aan akademiese en populêre besprekings oor die grondwet, regskwessies en die regbank deelneem en dit sou jammer wees as die huidige kontroversie ’n beperkende invloed sou hê op regters om hul menings te lug oor belangrike regs- en wetlike aangeleenthede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Adam Adriaan ·

Wil net vir die spotprent tekenaar sê dit is vreeslik om in die Hand van die Lewende God te val. As jy die bybel as mites beskou, kan ek maar net vir jou bid dat jy gered kan word. Ek stem saam met die hoofregter. Waar hy verkeerde opgetree het is om dit waar aan hy glo oor; Israel in die openbaar te verkondig. Dit is moet hy vir homself hou Dil linkse liberale satan aanbidders sal hom vergruis, want dit is nie wat hulle verkondig nie. As hoofregter of as enige regspersoon wat op die bank sit; maak nie sulke uitlatings in die openbaar nie, dan word jou ligitimiteit bevraagteken.

Stephanus ·

Stem nie saam nie. Moet die waarheid terug staan vir die leuen en of het hy lasterlike- verkleinerende of enigiets gemeld wat n persoon se waardigheid aangetas het? As hierdie tipe aanvalle die norm word sal niemand ooit n woord mag spreek nie want daar sal altyd iemand wees wat in hul kleinlike sensitiwiteit seergemaak sal voel.

Cherokee ·

Dankie vir jou reaksie Stefaans. Jou kommentaar was op ‘n skrywe waar die Bybel nie eens met ‘n hoofletter geskryf is. En waar kritiek gelewer is op iemand wat God se Woord openlik verdedig.

Monica ·

Nee, hy het korrek opgetree. Geen verskoning is nodig nie!

Racheltjie Debeer ·

Ek stem 100% saam. Die regter skuld niemand ‘n verskoning nie.

Mariana ·

Kan sien hoekom daardie spesifieke partye die regter veroordeel en wil aanvat. Hy is ‘n Christen en ‘n gelowige. Hy is heel waarskynlik vir hulle ‘n bedreiging. Maar soos elke ander persoon het hy mos ook die reg om sy opinie te lig oor dit wat verkeerd is in hierdie land en ons almal weet wat of wie dit is.

capie ·

Dit wys mens net tot watter graad die regering en sy aanhangers verval het. Die regter sal seker nou so gou as moontlik vervang word om hul eie idiologië te bevorder.

Faraway ·

Ek stem 100% saam met Hoofregter Mogoeng Mogoeng en mag GOD hom en sy gesin beskerm!!!!!

Jr ·

Sir Mogoeng, jy het geen rede om vir my , my vrou en my kinders wat die Hêre dien verskoning te vra. U gaan ń kroon kry omdat u opgestaan het vir die Hêre. Waneer Syrypy Cyril sê u moet vir SA verskoning vra moet hy eintlik sê vir sy makkers en die ANC verskoningvra . Hier is nie ń SA maar net die cANCer party en ek is menige kere gesê ek wat hier gebôre hier is , is nie ń Suid Afrikaner. So jy Syrypy praat nie namens my en duisende ander.

Prikkie ·

Ek stem 100% vir die regter en hy het geensins nodig om ENIGIEMAND om verskoning te vra nie. Punt

Jakes ·

Die Daily Maverick wat blatant die regter aanval oor sy geloofsoortuigings wys maar net weer wat hul waardestelsels is. N spul idiote soos hulle sal moeilik oortref word.

Isabella ·

Mogoeng tree op volgens die Bybel hy is gehoorsaam aan God se Woord as daar meer soos hy uitgestaan het vr waarin hul glo sou hierdie land geseend gewees het wette sou gehoorsaam gewees het plolisie sou die gesag afgedwing het wat n waardige taakspan veronderstel is om te doen…die huidige regering sou nie regeer het nie.. aborsie is goedgekeur dis moord.. Sondae wat n rusdag en familie dag behoort te wees word kroee en drank winkels oopgemaak ens ens …keer terug na die Lewende God en beginsels …vaders kom jul verpligtinge na hou weer huisgodsdiens heers oor jul huise jul kinders en vroue …

Stephanus ·

Sover my kennis strek het hy niemand benadeel nie. Gevolglik verskoning vra vir wat? Meet sy uitsprake aan die tien gebooie. As hy enigeen van hulle oortree het, kan hy verskoning vra vir die een wat hy teen oortree het.

JohanR ·

Elke nou en dan word iemand aangestel in SA “by hook, or by crook” wat onder almal uitstyg. Soe een was Thuli Madonsela, en nog een is Hoofregter Mogoeng-Mogoeng. Daar is maar bitter min met
integriteit in Suid Afrika.

TO ·

Spotprenttekenaar, jy moet maar lekker spot, seker vergeet wat het met almal voor jou gebeur wat die Here onse God bespot het. Ons sal eersdaags uitvind van jou lot. Pasop om te val in die hand van die Lewende God. Vir jou regter moegeng, wil ek sê, ek respekteer jou. Nie ‘n jellievis soos die res wat nie die backbone het “to put your money where your mouth is”. As ons maar so sterk leier soos jy in hierdie land gehad het. Mag die Here jou uit jou sokkies bless.

Cherokee ·

Somtyds is ons kritiek gebind aan persoonlike vooroordele. Ek gee toe dat ek ‘n absolute kritiese beskouing van Mogoeng gehandhaaf het. My opinie het drasties verander die laaste dae by eerstens sy hantering van die Hlope situasie en daarna die lekker verrassing toe hy sê die heelal se grondwet word geskryf deur God en is te lese in die Bybel. Dit het ook my opinie oor zapiro (let op die kleinletter en dìt sal genoeg sê) verander. Spotprente deur zapiro sal met veragting beskou word soos hy na die Boek bo alle boeke kyk. Terug na Mogoeng, hy verdien respek met sy openlike erkenning van eer en aanbidding tot die God bo alle gode. Eer aan Hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.