Mogoeng: God wil hê ek moet hoofregter wees

Regter Mogoeng Mogoeng, wat aanbeveel word vir die pos van hoofregter, het Sondag aan die Regterlike Dienskommissie (RDK) gesê God wil hê hy moet hoofregter wees.

Die RDK het Saterdag sy onderhoud met Mogoeng begin om sy geskiktheid vir die pos van hoofregter te bepaal. Die Inkatha Vryheidsparty se hoofsweep, Koos van der Merwe, het aan Mogoeng gevra of hy dink God wil hy moet as hoofregter aangestel word. Mogoeng het hierop geantwoord dat hy dink God wil hê hy moet as hoofregter aangewys word. Van der Merwe het gesê dit is vir hom kommerwekkend en gevra wat gaan God aan hom doen indien hy dan teen hom (Mogoeng) stem. Mogoeng het verder gesê hy het gebid waarna God vir hom ʼn teken gestuur het dat hy die nominasie vir die pos moet aanvaar, toe president Jacob Zuma hom vroeër genomineer het. Zuma is erg gekritiseer oor die wyse waarop hy Mogoeng benoem het. Daar is onder meer kommer uitgespreek oor die feit dat die RDK weier om nog benoemings te aanvaar. Regsgeleerdes meen die RDK se onderhoud met Mogoeng is dus blote formaliteit. Die RDK sal na afloop van die onderhoud ʼn stemming hê en ʼn aanbeveling maak aan Zuma. Dit is egter Zuma se prerogatief of hy hom aan die aanbeveling steur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.