Montecasino-lyk: Verdagte se bloed moet getoets word

Maruschka Robinson en kêrel Jean-Pierre Malan Woensdag in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Maruschka Robinson en kêrel Jean-Pierre Malan Woensdag in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Jean-Pierre Malan, wat saam met Maruschka Robinson tereg staan vir die moord op Dustan Blom, moet bloedmonsters en handskrif voorbeelde vir ontleding verskaf, het die Randburgse landdroshof in Johannesburg Woensdag beslis.

Die paartjie het vir die eerste keer saam in die hof verskyn sedert hulle in hegtenis geneem is. Robinson (24) en Malan (32) het kalm in die hof voorgekom.

Malan (32) gaan nie tans vir borgtog aansoek nie, het sy prokureur, Shaun Hamilton, Woensdag gesê.

“Ons behou die reg voor om in ʼn later stadium vir borgtog aansoek te doen,” het hy gesê.

Malan is die kêrel van Robinson, wat glo ʼn voormalige ontkleedanser is, en wat op 24 September in hegtenis geneem is nadat Blom (36) se ontbinde liggaam in die kattebak van sy voertuig by Montecasino in Fourways ontdek is.

Malan is op 26 September vasgetrek.

Jean-Pierre Malan Woensdag in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Jean-Pierre Malan Woensdag in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die bloedmonsters en handskrif voorbeelde is vir die ondersoek nodig, meer inligting daaroor is nie verskaf nie.

Robinson het nie regsverteenwoordiging gehad nie, en het nie beswaar gemaak om ʼn handskrif voorbeeld te gee nie, maar die landdros het haar aangeraai om eers regsverteenwoordiging te soek voordat sy toestem. “Die hof gaan haar nie beveel om ʼn handskrif voorbeeld te verskaf, voordat sy verteenwoordig is nie,” het die landdros gesê.

Dit volg nadat staatsaanklaer Yusuf Baba gesê het hy glo ʼn botsing van belange kan vir Hamilton ontstaan wat dit vir hom moeilik gaan maak om Malan én Robinson te verteenwoordig. Robinson het gesê dat haar reg tot regsverteenwoordiging nie aan haar verduidelik is nie, en die landdros het dit toe aan haar verduidelik.

Maruschka Robinson in hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Maruschka Robinson in hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Baba het gesê: “Vir die rekord, haar regte was tydens haar eerste hofverskyning aan haar voorgelees.”

Die saak is uitgestel tot 9 Oktober vir verdere ondersoek. Die paartjie bly in aanhouding in die Johannesburg-gevangenis tot dan. -SAPA

Lees ook:
Montecasino-lyk: Albei verdagtes vandag in hof
Montecasino-lyk: Verdagte in hof met vloekwoord op frokkie
Montecasino-lyk: Man vas
Montecasino-lyk: Oud-ontkleedanseres in hof
Vrou vas vir Montecasino-lyk
Gru-vonds by Montecasino

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.