Moodley hoor volgende week oor herverhoor

Die veroordeelde moordenaar, Donovan Moodley, by die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die hooggeregshof in Johannesburg sal volgende week uitspraak lewer in die veroordeelde moordenaar, Donovan Moodley, se aansoek om herverhoor te word.

Regter Joop Labuschagne het Donderdag gesê hy sal die saak oorweeg en deur die relevante dokumente lees. Moodley is in 2005 skuldig bevind aan die ontvoering en moord van Leigh Matthews (21). Hy is lewenslank tronkstraf opgelê. Moodley het Woensdag met sy aansoek om ʼn herverhoor begin en het besluit om homself te verteenwoordig. Moodley beweer dat drie Nigeriese dwelmsmouse die ontvoering en die moord gereël het. Hy het ook uitgevaar teen die ondersoekbeampte in die saak, Piet Byleveld, hom gedwing het om te sê hy het dit alleen gedoen aangesien hy nie die polisie na die drie Nigeriërs kon lei nie. Moodley het Donderdag gesê hy het nie die polisie gekontak na Matthews se liggaam gevind is nie aangesien hy bang was. “Ek het by die huis gesit en na die mediadekking op TV gekyk. Die rede hoekom ek nie polisie toe gegaan het nie is omdat ek baie bang was.” Moodley beweer daar is gepeuter met bewysstukke wat in Matthews se kar gevind is. Byleveld het verskeie kere aan die media gesê dat hulle verwag om nog mense in hegtenis te neem in verband met die saak. “Niemand in die hof glo dat die saak opgelos is nie,” het Moodley gesê. Matthews se ouers het gister se hofverrigtinge bygewoon maar het na middagete die hof verlaat. Moodley se ouers was ook in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.