Mooier ingang begroet Phalaborwa-besoekers

Die dorpie Phalaborwa in Limpopo is vir Kwêla se Dorp van die Jaar 2013-kompetisie benoem en inwoners het die onus op hulself geneem om die dorpie te verfraai.

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Phalaborwa-tak het onlangs ʼn projek van stapel gestuur om die ingang van Phalaborwa skoon te maak en te restoureer “tot sy oorspronklike glorie”.

“Die Dorpsingang-projek is daarop gemik om die ingang van die dorp, die eerste blik wat besoekers op dié dorp kry, te herstel, te verfraai en te onderhou om mense in ons dorp met groot trots te kan verwelkom,” het Ina Vorster, voorsitter van AfriForum se tak in Phalaborwa, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens Vorster is hierdie projek deur die munisipaliteit verwelkom. Die munisipaliteit het ook toestemming verleen dat ʼn verwelkomingsbord aangebring word wat aandui dat die deel van die park opgegradeer en onderhou sal word deur die plaaslike AfriForum-tak. “Dit is alle inwoners se verantwoordelikheid om by te dra om die dorp skoon te hou,” het Vorster gesê. Dit is slegs een van vele projekte wat die AfriForum-tak in samewerking met die munisipaliteit wil aanpak om die dorp skoon te maak en op te gradeer.

Volgens Vorster het hulle positiewe reaksie van al die inwoners gekry. “Die gemeenskap het plante geskenk, vervoer aangebied om plante aan te ry en vullis te verwyder. Ons is dankbaar vir al die bydraes en hulp,” het Vorster bygevoeg.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se organiseerder vir Limpopo, is dit nodig dat gemeenskappe met hierdie tipe optredes begin. “Gemeenskappe moet begin om eienaarskap te neem van hul dorpe se probleme, sodat dit nie nodig is om vir alles by die regering bakhand te staan vir antwoorde en aksie nie,” het Mostert gesê.

AfriForum moedig gemeenskappe aan om by hul takke aan te sluit om die stryd teen die misbruik van belastingbetalers se geld voort te sit. SMS “Phalaborwa” na 31336 om aan te sluit. SMS’e kos 50c.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.