Moontlike bendegeweld teister Boksburg-omgewing

ʼn Man is Woensdag doodgeskiet en ʼn tiener gewond in drie afsonderlike skietvoorvalle naby Boksburg.

Volgens sersant Mashudu Phathela, ʼn polisiewoordvoerder, is ʼn 42-jarige man omstreeks 11:00 by sy huis in Reigerpark doodgeskiet. “ʼn Swart VW Golf met drie insittendes het voor sy huis gestop. Twee mans het uitgeklim en die man buite sy huis aangeval. Hulle het hom met hul vuiste geslaan, waarop hy ʼn vuurwapen uitgeruk en op hulle geskiet het,” het Phathela gesê. Die mans het teruggeskiet en hom noodlottig gewond. Sy liggaam is 100 meter van sy huis af gevind.

In die tweede voorval wat om 19:00 plaasgevind het, is ʼn 16-jarige seun gewond. “ʼn Swart VW Golf het langs hom stilgehou en op hom geskiet. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en is in ʼn stabiele toestand.”

Phathela sê sowat 20 meter van dié voorval het die insittendes van dieselfde voertuig skote na nog ʼn man geskiet, maar die man kon daarin slaag om te vlug. “Dis is nog nie bekend of die man gewond is of nie,” het Phathela bygevoeg.

“Dit is moeilik om te sê of die voorvalle verband hou met bendegeweld. Volgens lede van die gemeenskap het die 42-jarige man aan ʼn bende behoort.”

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.