Moontlike ooggetuies in Dewani-moord

Shrien en Anni Dewani

ʼn Britse joernalis beweer dat ʼn geheimsinnige paartjie moontlik oor noodsaaklike bewyse beskik in die saak teen die vermeende wittebroodsmoordenaar, Shrien Dewani, het EWN berig.

Die sakeman het appèl aangeteken om nie na Suid-Afrika uitgelewer te word en gevolglik hier vervolg te word nie. Hy word daarvan aangekla dat hy die meesterbrein was agter sy vrou, Anni, se moord in November 2010. ʼn Nuwe dokumentêr op die BBC-televisiekanaal sal glo beeldmateriaal van Dewani wys waar hy ʼn gevangene ontmoet. Dié beeldmateriaal was vroeër nie beskikbaar nie. Dié dramatiese nuwe bewyse is deur kringtelevisie-kameras by die Cape Grace-hotel in Kaapstad vasgelê, drie dae ná Anni doodgeskiet is. Die beeldmateriaal wys glo waar Dewani die internetkamer binnegaan saam met taxibestuurder Zola Tongo. Tongo is in 2011 tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Anni Dewani. Shrien Dewani dra glo ʼn wit plastieksak en ná ʼn kortstondige vergadering vertrek Tongo met dieselfde sak.

Volgens die dokumentêr was ʼn paartjie ook in dieselfde vertrek en kan moontlik ooggetuies van die oorhandiging wees. Intussen glo die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA) dat die beeldmateriaal egter die hofsaak nadelig kan beïnvloed. In 2011 is Dewani in die hospitaal opgeneem vir post-traumatiese stres. Vier mense is reeds in verband met die Khayelitsha-moord in hegtenis geneem. Een van die beskuldigdes, Xolile Mngeni is ook in die hospitaal opgeneem nadat dokters ʼn kankergewas in sy brein opgespoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.