Moord dalk 83 jaar later opgelos

Alfred Rouse Foto: BBC

Alfred Rouse Foto: BBC

Wetenskaplikes in Engeland kan moontlik nou, 83 jaar later, ʼn moordslagoffer uitken.

ʼn Man is in 1930 in Northampton met ʼn hamer oor die kop geslaan en sy liggaam is in ʼn Morris Minor-motor aan die brand gesteek.

Alfred Rouse is later skuldig bevind aan die moord en is gehang, berig die BBC. Hy het egter nooit sy slagoffer se naam bekend gemaak nie. ʼn Span van die Leicester-universiteit het nou egter op DNS afgekom wat moontlik die slagoffer se identeit kan bekend maak.

Die man se liggaam is in 1930 ondersoek en monsters is tydens ʼn nadoodse ondersoek versamel en by die departement van forensiese medisyne by die Londense Mediese Kollege (nou Queen Mary Kollege) gehou, berig The Mirror.

ʼn Vrou het dekades later navorsing begin doen oor haar familieboom nadat haar ouma bekend gemaak het dat haar oom die man was wat in die motor verkool het. Die oom, William Thomas Briggs, het in November 1930 op pad na die dokter verdwyn.

Die familie het in die 1950s, bykans 30 jaar nadat Rouse vir die moord gehang is, die polisie versoek om weer die saak oop te maak. “My familie was oortuig dat William sy slagoffer was,” het Samantha Hall gesê.

Rouse het ʼn kopwond in die Eerste Wêreldoorlog opgedoen en het gevolglik aan ʼn persoonlikheidsversteuring gely. Hy het twee buite-egtelike kinders gehad en ʼn hofbevel om vir dié kinders te sorg, het hom in ʼn finansiële verknorsing gelaat. Rouse wou glo sy eie dood vervals.

Die polisie het in daardie stadium gedink Rouse het moontlik ʼn hawelose man, wat nie vermis sou word nie, opgelaai en het die man op 6 November, saam met van sy eie persoonlike besittings in die motor aan die brand gesteek, sodat dit moes voorkom of hy self in die ongeluk omgekom het.

Die motor se registrasienommer was steeds sigbaar en die polisie het die eienaar as Rouse uitgeken. Hy het intussen na Cardiff gevlug, maar is aangekeer en uiteindelik skuldig bevind aan die moord.

Hall het in 2012 weer met die Northamptonshire-polisie in verbinding getree, hoopvol dat DNS uiteindelik berusting sou bring vir haar familie.

Die familie is na die Leicester-universiteit verwys, wat Koning Richard III suksesvol uitgeken het ná beendere in 2012 in ʼn Leicester-parkeerarea opgespoor is.

ʼn Span forensiese wetenskaplikes het monsters van die moordsaak bekom. Die sleutel sou glo wees om genoeg mitochondriale DNS (mtDNS) in die monster op te spoor vir ʼn profiel wat met die familie se DNS vergelyk kon word, berig Red Orbit. “Die wetenskaplikes het ʼn volledige enkele manlike mtDNS-profiel saamgestel,” het ʼn woordvoerder vir die span gesê. “Dit was baie interessant en bevredigend om aan só ʼn bekende plaaslike moordsaak te werk.”

Die uitslag van die DNS-profiel sal binnekort op die BBC se The One Show bekend gemaak word. Die datum vir die program is nog nie beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.