Moordverdagte was glo mishandel deur man

Tiziano Ciciliato

Ronell Botma, wat van die moord op haar man aangekla word, het aan die landdroshof in Middelburg gesê hy het haar en haar kinders gereeld mishandel.

Botma doen aansoek om borg in die saak waar sy aangekla word dat sy haar man, Tizi Ciciliato, vermoor het. Sy het verlede week, saam met haar huishulp Annah Mokwana (51), Mokwana se suster Bule Dinah Mokwana (45), Mbuso Khoza (29), Henry Chego (29), Doctor Jacob Tlou (30) en Tsietsi Letsebe (34), in die hof verskyn. Die saak is tot Maandag uitgestel, het Beeld berig.

Die sewe verdagtes word van moord, sameswering om moord te pleeg, en roof met verswarende omstandighede, aangekla. Ciciliato is twee weke gelede in sy huis in Middelburg met ‘n skerp voorwerp gesteek en met ‘n hamer doodgeslaan.

Josef van Eeden, Botma se prokureur, het verlede week ‘n psigiatriese verslag, wat deur prof. Vollie Spies saamgestel is, voorgelees. Spies het Botma vroeër die week evalueer. Spies sê Ciciliato het Botma emosioneel, verbaal en fisies mishandel. “Sy is nie toegelaat om besluite te maak nie, en hy het begin om haar te isoleer. Hy het haar finansies beheer en sy is verbied om buite haar familie te sosialiseer.” Luidens die verslag het Ciciliato absolute gehoorsaamheid in sy huis verwag en sy en haar kinders is gereeld gewurg, geslaan, verneder, en vasgebind.

Die verslag sê ook dat Botma vier jaar gelede probeer het om haar man te verlaat, maar dat hy haar telkens gevang en gedreig het om haar te vermoor.

Lees ook:
Vrou vas ná moord op haar man

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tante Afrikana ·

Lyk my na nog ‘n man wat gedink het sy vrou is ‘n besitting….

moemfie uys ·

Hierdie vrou het nie gedink aan die man wat deur moordenaars wakkergemaak was nie. Sy het nie gedink aan die broer en swaer wat sy gebreekte lyk moes gaan uitken het nie. Aan die kinders wat van ‘n pa beroof is nie. Aan die werkers wat nou sonder heenkome sit nie. Aan die vrou wat haar seun moes begrawe nie. Sy het net gedink aan haarself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.