Moordverdagte wou ET glo ontman

Eugene Terre'Blanche. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Een van Eugene Terre’Blanche se vermeende moordenaars wou die voormalige AWB-leier glo ontman, het die rondgaande hof in Ventersdorp gehoor.

Die ondersoekbeampte, lt. kol. Tsietsi Mano, het Dinsdag getuig dat Chris Mahlangu beplan het om Terre’Blanche te ontman. “Mahlangu sê hy het Terre’Blanche se broek afgetrek en sy private dele ontbloot. Sy voorneme was om Terre’Blanche te ontman. Hy het egter daarteen besluit.” Mahlangu en ʼn jeugdige word aangekla van die moord op Terre’Blanche op 3 April 2010 op sy plaas buite Ventersdorp. Mano het getuig dat Mahlangu op die dag van die moord na ʼn stoorkamer op die plaas is waar hy ʼn staalpyp gevind het. Hy en die jeugdige het toe glo Terre’Blanche se huis deur ʼn venster binnegegaan. Hulle het glo vir Terre’Blanche gekry waar hy op sy rug op ʼn bed gelê het. Mahlangu het Terre’Blanche glo teen die voorkop geslaan met die ysterpyp. Hy het hom hierna glo nog twee keer teen die kop geslaan. Die jeugdige het glo die pyp by Mahlangu gevat en Terre’Blanche in die gesig en teen sy bors geslaan. Mano is ook uitgevra oor bewerings dat Terre’Blanche vir Mahlangu gesodomiseer het. Mano sê gedurende sy ondersoek van die saak en ondervraging van Mahlangu het die bewering nooit aan die lig gekom nie. Die verhoor duur vandag voort.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.