Die Suid-Afrikaanse vrou wat saam met haar beweerde minnaar in ʼn Zambiese tronk aangehou word in verband met die grumoord op haar man “vrees vir hul lewe.”
Rapport berig dat Estie Pienaar (33) voorverlede Saterdag saam met Nicky Rossouw (58) en Mulumba Nyambe (30) in hegtenis geneem is verband met die moord op Marius Pienaar (50). Pienaar se lyk is op 30 Junie in die Zambezirivier gevind. Die drie verskyn Woensdag in ʼn Zambiese hof. Pienaar het vyf dae voor sy lyk gekry is spoorloos verdwyn uit die Nina-hengelkamp in Sesheke. Hy is glo in sy slaap oorval, oor die kop geslaan en keelaf gesny voor hy in die rivier gegooi is. Estie en Marius het glo by die kamp, wat aan Nicky behoort, vakansie gehou. Nyambe is een van Nicky se werkers. Volgens die polisie het Estie en Nicky tydens ondervraging erken hul is in ʼn liefdesverhouding. Estie en Nicky se families beweer hulle word hardhandig deur die polisie hanteer en dat hul verneder word voor ander gevangenes.
Lees meer hier.