Morsy die nuwe Egiptiese president

Mohamed Morsy, die nuwe president van Egipte

Die Islamitiese Mohamed Morsy van die Moslemse Broederskap is die nuwe president van Egipte.

Dié inligting is gister deur Egipte se verkiesingskomitee bekend gemaak.

Die 60-jarige Morsy het 51,73% van die stemme ingepalm in ʼn polariserende verkiesing teen die voormalige generaal Ahmed Shafik verlede naweek. Shafiq was vlugtig Hosni Mubarak se premier tydens dié se laaste dae aan bewind.

Mubarak is 16 maande gelede uit die kussings gelig te midde van fel openbare opstande teen sy bewind. Dié opstande het die eens verbande Broederskap toegelaat om op die voorgrond van die politiek te tree. Mubarak is sedertdien tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy betrokkenheid by die dood van sowat 850 mense wat tydens dié betogings dood is.
Duisende ondersteuners van die Broederbond het Saterdag feesgevier op die Tahrir Plein in Kaïro, waar hulle landsvlae geswaai en “Allahu Akbar!” (“God is groot!”) geskree het.

Morsy het onderneem om ʼn verteenwoordigende regering saam te stel wat aanklank sal vind by al sy volksgenote, insluitend ʼn groot minderheidsgroep Christene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.