Mosambiek ontruim 55 000 mense

Vloedskade in Mosambiek

Die owerhede in Mosambiek het Dinsdag noodontruimings in die suide begin doen waar 55 000 mense glo in onmiddellike gevaar weens stygende watervlakke is.

“Ons versoek mense om na veiliger gebiede te trek. Na raming is 55 000 mense beïnvloed,” het Rita Almeida, woordvoerder vir die Mosambiekse Rampverligtingbestuursinstituut, aan AFP gesê. Noodspanne staan gereed en motorbote is na die gebied ontbied om mense na hul veiligheid te bring.

Die suide en die middel van die land is op rooi waarskuwing geplaas nadat die ergste reënval geval het sedert die verwoestende vloede van 2000 waarin 800 mense gesterf het. 35 mense is reeds sedert die aanvangs van die reënseisoen in Oktober dood, en agt groot riviere is reeds verby krisisvlakke. Kenners voorspel dat Chokwe in die suide die ergste reënval kan beleef.

“Die situasie is krities,” het Elidio Jamisse, ‘n raadgewer van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) aan Mosambiek se nooddiens gesê. “Die Massingir-dam op die Olifantsrivier (‘n uitvloeisel van die Limpopo) het reeds 3 500 kubieke meter per sekonde bereik,” het hy gesê. “Water van die Limpopo sal by dié water aansluit en al dié water stroom na Chokwe.” Gebiede noord van die dorp, waar die rivier al meer as 11m hoog is, is reeds oorstroom. “Ons verwag dat die water môre [Woensdag] Chokwe sal bereik. “Dit is hoekom al ons spanne mense nou reeds ontruim,” het Jamisse bygevoeg.

Tussen Sondag en Maandag het sowat 185mm reën oor die Limpopo-riviermond in suidelike Gaza-provinsie geval. Die suidoostelike dorp, Panda, het tussen Maandag en Dinsdag sowat 233mm reën ontvang.

Owerhede by die Kruger Nasionale Park, wat aan Mosambiek grens, moes ook reeds dosyne mense en personeel ontruim. Ten minste agt mense is dood in die mees noordelike distrik van Vhembe in die Limpopo-provinsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.