Mosambiekse plaaslike regeringsverkiesing: Spanning neem toe ná nog aanvalle

mosambiek_regDie spanning in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in Mosambiek eerskomende Woensdag, is besig om fel toe te neem. Twee afsonderlike aanvalle die afgelope Vrydag het ’n lewe geëis en nóg elf beseer.

In die eerste aanval is een van die slagoffers dood en tien beseer en in die tweede aanval is ’n vragmotorbestuurder geskiet toe gewapende mans sy voertuig gekaap het.

’n Strook van die Mosambiekse snelweg van sowat 100km tussen Muxungue en die Save-rivier het die afgelope paar maande byna in ’n oorlogsone verander. Die toename in aanvalle in hierdie gebied het die weermag die afgelope maande genoodsaak om padgebruikers in die omgewing te vergesel in ’n poging om die gevaar te verminder. Die vermoede is sterk dat voormalige Renamo-rebelle, wat hulle letterlik plek-plek langs die snelweg ingegrawe het, vir talle aanvalle op burgerlikes se voertuie verantwoordelik is.

Die taktiek om langs hoofweë in te grawe en vandaar niksvermoedende padgebruikers aan te val, was ’n algemene gebruik deur Renamo gedurende die 16-jaarlange burgeroorlog wat in 1992 geëindig het, maar nou weer dreig om op te vlam. Die rebelle grawe letterlik ’n sloot oor die snelweg om voertuie tot stilstand te bring, waarna ’n bloedige aanval volg.

Renamo boikot Woensdag se plaaslike verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.