Solidariteit se reaksie volg op ʼn berig in Vrydag se Mail & Guardian dat Motala in die geheim aansoek gedoen het om presidensiële kwytskelding vir bedrog en diefstal, blykbaar as deel van ‘n poging om die besluit deur die Meester van die Hooggeregshof om sy naam op die swartlys te plaas, ongedaan te maak. Solidariteit het ook sy kommer uitgespreek oor die invloed wat Michael Hulley, een van Aurora se omstrede direkteure, op die presidensiële kwytskeldingsproses kan hê. Hulley is onlangs as regsadviseur vir die presidensie aangestel.
Volgens Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, plaas Motala se aansoek Zuma se geloofwaardigheid op die spel. “President Zuma het vroeër vanjaar in sy staatsrede aangekondig dat korrupsiebestryding vanjaar hoog op die agenda sal wees. Indien hy Motala se aansoek om kwytskelding toestaan, sal sy verbintenis om korrupsie in Suid-Afrika uit te roei, ernstig bevraagteken word. Dit kan selfs lyk asof hy Motala en die Aurora-direkteure se gedrag goedpraat,” sê Du Plessis. “Motala erken na bewering in sy aansoek om presidensiële kwytskelding dat hy wel aan 93 kriminele klagte skuldig bevind is én dat hy sy van verander het. Indien presidensiële kwytskelding toegestaan word, sal dit beteken dat ʼn groot gedeelte van die rede vir Motala se verwydering as likwidateur sal wegval en dat die klagte wat tans teen hom ondersoek word, nie voltooi sal word nie,” sê Du Plessis. “Dit sal ʼn klap wees in die gesig van die mynwerkers wie se lewens deur Motala en Aurora se toedoen byna verwoes is.”
Die meester van die hooggeregshof het Motala in 2011 as likwidateur van die Pamodzi Gold-boedel en die nasionale lys van goedgekeurde likwidateurs verwyder. Dit beteken dat hy nooit weer as likwidateur mag optree nie. Solidariteit sê hy het intussen verneem dat Winnie Mandela in ʼn beëdigde verklaring en brief Motala se aansoek om presidensiële kwytskelding ondersteun. “Dit skep die vermoede dat Mandela van die begin af by die Aurora-debakel betrokke was,” meen Du Plessis. Mandela se kleinseun, Zondwa Mandela, is die besturende direkteur van Aurora Empowerment Systems, wat intussen ook reeds gelikwideer is.